Klein houe, groot pret vir Proties
Son, spel en saamkuier: Protearif se gholfdag bied pret en fondsinsameling.
Met ’n perfekte kombinasie van stralende sonskyn en yskoue bier het Laerskool Protearif se jaarlikse gholfdag op 8 Mei by die Krugersdorp Gholfbaan afgeskop.
• Lees ook: Proties se kultuurleerders pluk die vrugte by RACA
Die organiseerder van die dag, Aneke Putter, het vertel dat die gholfdag op 8 Mei by die Krugersdorp Gholfbaan plaasgevind het, en dat deelnemers reeds vanaf Januarie hul belangstelling getoon het.
“Ons het omtrent 34 vierballe gehad wat met ’n ‘shotgun start’ die dag afgeskop het. Alhoewel die spelers op dieselfde tyd afgeslaan het, het hulle op verskillende gate begin,” het sy verduidelik.
Sy het verder verduidelik dat die geleentheid ’n fondsinsameling vir die skool was, met die doel om ouers van die leerders en die breër gemeenskap nader aan mekaar te bring.

Na afloop van die gholf het die spelers saamgekom vir die prysuitdeling.
Ons het 24 pryse gehad vir elke tweebal, wat ’n totaal van 48 pryse beteken het. Pryse is toegeken aan spelers wat presteer het in kategorieë soos die langste dryf, naaste aan die putjie, en iets uniek – die swaarste vierbal.
“Hier is spelers geweeg om te bepaal wie hierdie prys sou wen,” het sy bygevoeg.
Aneke het verder vertel dat die dag verlevendig is deur die optrede van die plaaslike musikant Leon Graham, terwyl akteur Altus Theart ook ’n draai gemaak het.
Sy het afgesluit deur te sê dat almal uitgesien het na die dag en nou met groot opgewondenheid uitsien na die komende Proteafees op 31 Mei.
