Ywerige kleintjies wys vroeg hul talent
116 spanne van regoor die Wes-Rand het onlangs aan Noordskool se welpierugby- en mininetbaldag deelgeneem.
Laerskool Krugersdorp-Noord se welpierugby- en mininetbalseisoen het op ’n hoë noot afgeskop.
• Lees ook: Waar die lus vir rugby begin
Op 31 Mei was die skool se rugbyvelde en netbalbane gevul met honderde ywerige jong spelers wat gewys het wat in hulle steek.


Woordvoerder Quintin Botha het gesê dit was ’n heerlike dag waarop uitstekende rugby- en netbaltalent ten toon gestel is. Verskeie skole regoor die Wes-Rand het aan die dag deelgeneem.
Volgens hom het 116 spanne deelgeneem, met altesaam 986 spelers. Die rugbywedstryde het seuns in die o.6- en o.7-ouderdomsgroepe ingesluit, terwyl die mini-netbal gespeel is deur dogters van o.6 tot o.9.
Die hoogtepunt was beslis die aankondiging van ‘Man van die Wedstryd’ ná elke wedstryd. Die doel van die dag was nie om op die telling te fokus nie, maar eerder op deelname en pret,” het hy verduidelik.
“’n Groot dankie aan elke Noordskool-ouer vir hul ondersteuning – ons waardeer dit opreg. Volgende jaar doen ons dit weer!” het Quintin afgesluit.



