Wit Bul getem deur Helpmekaar
Die Wit Bulle van Monnas se terugvegpoging in die tweede helfte was net nie goed genoeg nie en Helpmekaar het met 43–35 gewen.
Ongeveer 2 000 skolerugby-ondersteuners het Saterdag, 31 Mei, by Hoërskool Monument saamgetrek vir die groot Noordvaal-bekerstryd tussen Monnas en Helpmekaar Kollege.
• Also read: Nories’ Blues stun Wit Bulle in thrilling derby
Volgens Monnas se bemarker, Belinda du Toit, was dit hul eerste kragmeting teen Helpmekaar vanjaar.
Monnas se hoof van afrigting, Jannie du Plessis, het gesê dat al die wedstryde van uitstaande gehalte was, veral dié wat op die Ras van Rooyen-veld gespeel is.
“Dit was werklik goeie, kompeterende skolerugby,” het hy gesê.


“Die eerste span wedstryd het die kroon gespaan, met albei spanne wat pragtige hardlooprugby gespeel het.
Helpmekaar het die eerste helfte oorheers, terwyl Monument in die tweede helfte teruggeveg het. Die wedstryd was tot die einde toe in die weegskaal,” het Du Plessis bygevoeg.
Die Krugersdorp News het die eerste span wedstryd bygewoon. Binne die eerste agt minute het ’n Wit Bul ’n besering opgedoen, maar kort daarna het Monnas die eerste drie van die wedstryd gedruk.
Helpmekaar het teruggeklap met hul eerste drie, en drie minute ná die daaropvolgende afskop het Monnas weer ’n drie gedruk én oorgeskop. Helpmekaar het egter begin momentum kry en drie keer gaan druk, met twee suksesvolle doelskoppe, voordat Monnas hul volgende drie kon behaal.

Net ná die halftydfluitjie het Helpmekaar nog ’n drie gedruk en die skop suksesvol afgerond. Die halftydtelling was 36–17 in Helpmekaar se guns.
Die tweede helfte was ’n intense stryd, met Monnas wat binne die eerste paar sekondes reeds weer gaan druk het. Uiteindelik het Helpmekaar daarin geslaag om die oorwinning te beklink met ’n eindtelling van 43–35.

Die res van die uitslae is soos volg:
• Tweedes: Monnas 10–19 Helpmekaar
• Derdes: Monnas 7–12 Helpmekaar
• Vierdes: Monnas 28–17 Helpmekaar
• o16A Monnas 35–15 Helpmekaar
• o16B Monnas 20–24 Helpmekaar
• o16C Monnas 14–5 Helpmekaar
• o15A Monnas 5–29 Helpmekaar
• o15B Monnas 36–29 Helpmekaar
• o15 C Monnas 22–24 Helpmekaar
• o14A Monnas 22–20 Helpmekaar
• o14B Monnas 10–3 Helpmekaar
• o14C Monnas 0–26 Helpmekaar
Jannie het afgesluit deur elke seun te bedank was die dag ‘n reuse sukses gemaak het.


