144 gholfspelers trek saam vir plaaslike kinderhuis se missie
Met hulp van die gemeenskap het Friends of Bethany House Trust suksesvol hul 11de gholfdag aangebied om ondersteuning vir kinders in nood te verseker.
Die gholfliefhebbende gemeenskap het by die Krugersdorp Gholfbaan saamgetrek om The Bethany House Trust (BHT) te ondersteun.
Friends of BHT is ’n groep vrywilligers wat die trust bystaan. Hul stigter en koördineerder, Marina Hough, sê hulle doen dit op drie maniere: met goedere, pro bono-dienste en fondsinsamelings soos die gholfdag op 28 Augustus.
Die groep is in 2013 gestig en vanjaar se dag was reeds hul 11de gholfdag.

Volgens Marina ontvang BHT 50% subsidie van die staat en maak hulle staat op die privaatsektor om die res aan te vul deur fondsinsamelings.
Op die dag was die baan vol, met 144 spelers. Marina het uitgesien na die prysuitdeling en vertel die meeste pryse is deur die gemeenskap geskenk.
“Ek is bly oor die gemeenskap se geweldige bereidwilligheid en moedig mense aan om BHT te gaan besoek om te sien waarna die fondse aangewend word. Op jou eie maak ’n mens ’n verskil, maar saam maak ons veranderings.”

Antoinette Jonker, hoof- operasionele beampte by BHT, het opregte dank uitgespreek aan almal wat die gholfdag ondersteun het.
“U betrokkenheid en bydraes speel ’n onmisbare rol in ons missie om veiligheid, sorg en hoop aan kwesbare kinders te bied. Ons waardeer u lojale ondersteuning en vennootskap en sien daarna uit om saam voort te bou op hierdie belangrike werk,” het sy gesê.
