Nuwe jaar, nuwe krag: Fiksheidsentoesias deel raad
’n Plaaslike fiksheidsentoesias deel eenvoudige wenke vir beginners wat poog om oefening deel van hul daaglikse roetine te maak, spesifiek met die aanbreek van die nuwe jaar.
Dit is daardie tyd van die jaar wanneer baie mense voorgenome planne maak om weer gereeld te gaan oefen. Maar hoe benader ’n mens oefening op die regte manier?
Die 22-jarige Anthony Maartens, ’n fiksheidsentoesias van Noordheuwel, oefen reeds die afgelope agt jaar by ’n gimnasium. Volgens hom is sy grootste prestasie die feit dat hy nooit opgegee het nie.
“Ek het elke mylpaal bereik wat ek vir myself gestel het, en kan selfs dubbel my liggaamsgewig squat, bench press en deadlift,” sê hy.
Hy oefen vyf tot ses keer per week en meen mense kan hulself beter motiveer deur oplossings, in plaas van verskonings, te soek om by die gimnasium uit te kom. Anthony beklemtoon die belangrikheid daarvan om ’n gesonde roetine te vestig, daaglikse mylpale te stel en minder op motivering te staat te maak, maar eerder op dissipline te fokus.
“Oefening herstel die liggaam, bou selfvertroue, en maak jou sterker en meer stabiel. Dit help om beserings en siektes te beveg en bevorder die afleer van slegte gewoontes. Hoe meer spiermassa jy het, hoe beter kan jou liggaam siektes en ongesonde bakterieë beveg. Oefening gaan nie net oor hoe jy lyk nie, maar ook oor hoe jy voel,” verduidelik hy.
Hoe bly ’n mens volhoubaar in ’n oefenroetine? Anthony glo dit begin deur oefening ’n deel van jou daaglikse lewe te maak.
“Beplan jou dag vooruit en skryf jou oefeninge neer sodat jy jouself aanspreeklik kan hou. Selfs al is dit net 15 minute, is dit 15 minute meer as niks. Moet dit nie te ingewikkeld maak nie. Hou dit eenvoudig, maar maak dit ’n prioriteit om ten minste drie keer per week by die gimnasium uit te kom, of minstens een of ander vorm van aktiwiteit te doen,” raai hy aan.
Vir eerstekeer-gimnasiumgangers wat moontlik geïntimideerd voel, stel hy voor dat hulle by die ontvangsdame hoor wanneer die gimnasium se minder bedrywige tye is.
“Dit kan aanvanklik intimiderend wees as die gimnasium besig is. Skep vir jouself ’n stiller omgewing en begin stadig totdat jy gemaklik voel om saam met ander te oefen,” sê hy.
Hy voeg by dat die meeste mense binne vier tot vyf weke reeds ’n verskil in hul vordering kan sien indien hulle toegewyd bly. Dit is ook voordelig om met ’n geskikte oefenprogram te werk.
“Mense hoef nie skaam te wees in die gimnasium nie. Vra vir hulp as jy dit benodig – die gimnasiumgemeenskap ondersteun mekaar, want almal wil hulself verbeter. Dit is ’n veilige ruimte vir almal wat daar instap,” sluit hy af.