Krugersdorp-Noord-leerder maak SA-gewigstootgeskiedenis
Ná sy sukses by die Gauteng-kampioenskappe kroon Dean Jordaan sy prestasie met ’n eerste plek by die SA’s.
Dean Jordaan, ’n leerder van Laerskool Krugersdorp-Noord, maak tans golwe in die gewigstootwêreld nadat hy by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe uitmuntend gevaar het.
Dean het onlangs tydens die Gauteng-kampioenskappe die o13-seuns-gewigstoot gewen met ’n indrukwekkende afstand van 14.19m. Volgens berigte het hy daardeur vir die Gauteng-span gekwalifiseer, wat verlede week in Kaapstad aan die SA’s deelgeneem het.
Lees ook: Wit Bulle oorrompel Welkom, beïndruk teen Grey
Noordskool se woordvoerder, Quintin Botha, sê Dean se grootste droom was om ’n eerste plek by die SA’s te behaal. Daardie droom het verlede naweek bewaarheid toe hy die kompetisie gewen het met ’n afstand van 13.15m.
“Ons is baie trots op sy harde werk en uitmuntende seisoen. Sy afrigter het ekstra tyd en moeite met hom bestee. Die skool gaan hom binnekort vereer met Arendsvlerke, ons ere-toekenning vir leerders wat op nasionale vlak uitblink,” het Quintin afgesluit.
