Local sport

Kyk: Wes-Rander Jan-Hendrik skryf geskiedenis met 80.50m-wêreldtitel

Met sy oë op die 80m-merk het die Muldersdrift-inwoner sy laaste gooi geloods en Suid-Afrika ’n nuwe wêreldkampioen gegee.

Muldersdrift-inwoner en Wes-Rander Jan-Hendrik Heymans het sy naam in die wêreld van spiesgooi gevestig nadat hy goud by vanjaar se Wêreldatletiek o20-kampioenskappe in Eugene, Oregon, verower het.

Die Suid-Afrikaner het die mansspiesgooi met ’n indrukwekkende 80.50m gewen – ’n afstand wat vir Jan-Hendrik besonder spesiaal was omdat sy doelwit vir die kampioenskap juis was om die 80m-grens te breek.

“Toe die bord 80 slaan, was ek so bly dat ek nie eers geweet het of ek nou moet lag of huil nie,” het Jan-Hendrik aan die Krugersdorp News gesê.

Van twyfel na wêreldgoud

Jan-Hendrik was die hele jaar eerste op die wêreldranglys, maar het steeds geworstel met die onsekerheid van sy eerste groot internasionale kampioenskap.

Beserings het sy voorbereiding verder bemoeilik. Hy het ná die Senior SA’s vir ’n paar maande gerus en later ’n spier in sy lies beseer. Hy was selfs onseker of hy by die wêreldkampioenskap ’n enkele gooi sou kon uitvoer.

Tog het sy oefenafstande vinnig teruggekeer na tussen 77m en 80m.

“Ek het regtig net gehoop dat ek dit sal kan execute,” het hy gesê.

In sy laaste gooi het Jan-Hendrik die advies van ’n mede-spiesgooiafrigter gevolg om laer te kyk en alles in een lyn te gooi. Die resultaat was sy eerste 80m-gooi – en ’n wêreldtitel.

Kyk die video hier:

‘Ons was dubbel so bly vir hom’

Sy pa, Les Heymans, het saam met die gesin op die pawiljoen gesit en die finale dopgehou.

Les het gesê hy het ná Jan-Hendrik se tweede laaste gooi van 79m begin glo dat die goue medalje veilig was.

“Almal se droom is om eendag ’n 80 te gooi. Om ’n wêreldkampioenskap af te sluit met jou eerste 80m is amper niemand beskore nie,” het hy gesê.

Jan-Hendrik se pa het ook vertel hoe onseker sy deelname kort voor die kampioenskap was. Die atleet het ’n verkoue gekry, antibiotika gebruik en ’n week later ’n liesbesering opgedoen.

Nou fokus hy op sy liggaam en die toekoms

Jan-Hendrik, wat ingenieurswese aan Noordwes-Universiteit studeer en in Potchefstroom onder Tertius Liebenberg oefen, wil nou eers ’n behoorlike afseisoen inwerk en op sy rehabilitasie fokus.

Hy beplan om sy lies en dyspier te rehabiliteer voordat hy volgende jaar weer aan kompetisies deelneem.

Sy onmiddellike droom is om vir ’n Diamond League-byeenkoms te kwalifiseer, terwyl die Olimpiese Spele ’n groter langtermyndoelwit bly.

Vir sy pa is dit egter belangrik dat die wêreldtitel nie die jong man agter die prestasie verander nie.

“Die wêreldtitel het hom nie verander nie, net aangespoor om nog harder te werk,” het Les gesê.

Lees ’n meer in-diepte berig in die News se 28 Augustus-uitgawe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button