Kyk: Van Dakar tot die kunswêreld – Milan se talent ken geen perke nie
Van internasionale atletiekprestasies tot artistieke ambisies – dié Monumentaar bewys dat talent geen grense ken nie en dat ’n mens meer as een droom kan najaag.
Sy het pas Suid-Afrika se naam op die wêreldverhoog hoog gehou deur ’n silwermedalje by die Jeug Olimpiese Spele in Dakar te verower. Maar hoewel Hoërskool Monument se Milan Blignaut (17) op die atletiekbaan uitblink, lê haar grootste passie eintlik by haar verfkwas.
Sportliefhebbers ken haar as ’n veelsydige atleet wat op 10 November ’n hoogte van 1.74m in die vroue-hoogspringafdeling in Senegal oorkruis het. Sy blink ook in verspring, hekkies en netbal uit. Min mense besef egter dat sport nie haar grootste belangstelling is nie.

“Mense besef nie altyd dat kuns eintlik haar grootste passie is nie,” sê haar pa, Armand Blignaut.
Milan geniet teken en verf en speel reeds sedert die ouderdom van vyf klavier. Haar ouers spot selfs dat sy intussen langer geword het as die onderwysers wat haar van kleins af afrig. Akademies presteer sy boonop ook uitstekend.
• Lees ook: Milan verower silwer by Jeug Olimpiese Spele
Volgens Armand is haar aanpasbaarheid een van haar grootste sterkpunte. Dit stel haar in staat om die eise van internasionale sport, akademie en haar kreatiewe belangstellings suksesvol te balanseer – ’n vaardigheid wat haar goed te pas sal kom wanneer sy volgende jaar haar matriekjaar aanpak.

As ’n vierdegeslag-Monumentaar sal Milan in 2027 as medehoofmeisie én atletiekkaptein op die matriekraad dien.
Haar liefde vir die kunste speel ook ’n belangrike rol in haar toekomsplanne. Ná skool beoog sy om ’n BA-graad in skone kunste aan die Universiteit Stellenbosch te volg en só die grondslag vir ’n kreatiewe loopbaan te lê.

Atletiek sal egter steeds deel van haar lewe bly. Sy wil haar horisonne verbreed deur aan die sewekamp deel te neem – ’n item wat volgens haar pa perfek by haar veelsydige geaardheid pas.
Hoewel Milan reeds ’n indrukwekkende lys hoogspringprestasies op haar kerfstok het, waaronder verskeie Gauteng- en SA-kampioenskapstitels en ’n persoonlike beste van 1.75m, bly sy gegrond.
“Ons is opreg dankbaar vir haar skool se ondersteuning. Sy is ’n kind wat alles wil aanpak en vir niks terugdeins nie,” sluit Armand af.
Kyk hier:
https://www.instagram.com/reel/DfafAl9xc7y/?hvrq=MTBsZHZldmdleXFpdA==