School sport

Skole-derby tussen Monnas en Nories beloof groot sportweek

Duisende ondersteuners word verwag wanneer Hoërskool Monument en Hoërskool Noordheuwel kragte meet in ’n groter-as-ooit interskole week vol sport, gees en gemeenskapsbou.

Krugersdorp se grootste skolederby is terug en vanjaar beloof dit om groter, harder en meer gemeenskapsgedrewe as ooit te wees.

Die Monnas teen Nories-derby lok elke jaar duisende toeskouers na die onderskeie skole se terreine en vanjaar is dit nie ’n uitsondering nie. Verlede jaar is die wedstryde by Hoërskool Noordheuwel aangebied en die fakkel word vanjaar oorgedra na Hoërskool Monument, waar die groot rugbywedstryde op 9 Mei plaasvind.

In 2024 is dit laas op die Ras van Rooyen aangebied, waar Monnas se Witbulle ’n triomf van 36–33 verseker het. Verlede jaar, toe Nories dit aangebied het, het hulle met 43–27 gewen.

Op 4 Mei het Monnas hul ‘Beste in die Weste’-gesamentlike opening aangekondig, waar beide skoolhoofde, Dawie Kriel en Jan van Staden, klem daarop gelê het dat alhoewel hulle twee skole is, hulle een gemeenskap is.

Monnas ondersteuners tydens 2024 se derby. Argieffoto

’n Week van gees en sport

Die skole het ’n week van gees beplan wat reeds Maandag, 4 Mei, afgeskop het met ’n gesamentlike opening van beide skole en gholf. Die res van die program sluit die volgende in:
• Dinsdag, 5 Mei: Tennis en padel tussen die skole se beheerliggame
• Woensdag, 6 Mei: Skaak
• Donderdag, 7 Mei: Mans-onderwysers-/afrigtersfunksie
• Vrydag, 8 Mei:
Hokkie
Rugby
Old Boys-rugby
• Saterdag, 9 Mei:
Rugby
Netbal teen Marais Viljoen, Nelspruit en Randburg
Hokkie teen Pietersburg

Nories se hoof van sport, W.P. Laidlaw, het genoem die gevoel was dat hulle as toonaangewende skole in Krugersdorp wil saamwerk en wys dat, al is hulle teenstanders op die veld, hulle steeds trots is op die dorp en gemeenskap. Hulle wil hierdie geleentheid gebruik om die gemeenskap bymekaar te bring en Krugersdorp iets nuuts te gee om oor opgewonde sowel as trots te wees.

Norie-ondersteuners tydens verlede jaar se derby. Argieffoto

Tradisie, kompetisie en samewerking

Trompie van der Berg, sport- en atletiekhoof by Monnas, het gesê hulle hoop om binne die volgende paar jaar al die sporte te belyn sodat hulle in die week voor die jaarlikse Virseker-rugbywedstryd al hul sporte teen mekaar kan laat deelneem. Al is dit nie ’n reeks met ’n naam nie, speel Monnas en Nories voortaan vir die Christo Meyer-skild. Hoekom die Christo Meyer-skild? Christo Meyer is ’n legendariese onderwyser wat in sy tyd Monnas se eerste span afgerig het, asook Nories se eerste span in later jare. Hy was ook voorsitter van Wesrand-rugby.

Dan ding die Monnas-afrigters ook jaarliks teen Nories se afrigters mee vir die Dorper-trofee. ’n Inisiatief wat Noordheuwel verlede jaar begin het waar die twee skole se afrigters teen mekaar kompeteer. Verlede jaar het hulle veerpyltjies en pool teen mekaar gespeel, en vanjaar bied Monnas dit aan met ’n sport- en algemene kennisvasvra-aand.

“Die C- en D-spanne sowel as sesdes, vyfdes en vierde spanne speel Vrydag, 8 Mei teen mekaar by Monnas. Ons is ook opgewonde oor die Monnas Witbul Old Boys en Nories Old Boys-spanne wat 18:30 Vrydagaand mekaar die stryd aansê. Die 9de Mei is dit al die A- en B-spanne sowel as die res van die senior spanne wat kompeteer by Monnas,” vertel Trompie.

“Vanjaar gaan ons konsentreer op rugby sowel as van die kleiner sporte. Gholf, tennis, skaak en seunshokkie word deur die week bygevoeg. Vir die toekoms is die plan om ook netbal sowel as dogtershokkie deel van die week te maak. Ons netbal en dogtershokkie speel wel later in die maand ook teen mekaar as deel van die ligabepalings,” sê W.P.

Monnas se Imke Visser op die netbalbaan. Foto: ingestuur

Gemeenskap as dryfkrag

Buiten die sport, vertel W.P. dat die publiek kan uitsien dat daar ook ’n rugbywedstryd gaan wees tussen voormalige leerders van die twee skole, sowel as geleenthede vir besighede om betrokke te raak by die ondersteuning en bemarking van die geleentheid. Ons is ook besig om te kyk hoe ons die kultuur kan betrek, soos byvoorbeeld die kore van die onderskeie skole.

“Noordheuwel en Monnas het ’n unieke geleentheid daarin dat ons twee skole in Krugersdorp het wat topgehalte sport-, kultuur- sowel as akademiese geleenthede vir ons leerders bied. Daarmee saam het ons baie passievolle ondersteuners wat die skole ondersteun. Dit bied vir ons die geleentheid om die kollig op Krugersdorp te plaas, waar ons die aandag van die hele land kan fokus. Ons glo dat dit ’n geleentheid kan word wat mense jaarliks op hul kalenders sal omkring en na sal uitsien,” vertel W.P.

Hulle hoop om langtermyn vir die gemeenskap te wys dat skole in Krugersdorp vir leerders van plaaslike laerskole die beste geleenthede kan bied, sowel as om hulle deel te maak van tradisies en trots vir die skole, dorp en gemeenskap.

Nories se eerste netbalspan. Foto: Ashley Nieuwenhuyzen

“Baie keer is dit ons as ouers wat sulke geleenthede meer intens ervaar as die leerders. Die leerders speel kliphard teen mekaar, maar tien minute ná die wedstryde is hulle weer vriende – hulle gesels en lag saam. Ons wil graag dieselfde vir ons gemeenskap hê: dat ons as Krugersdorp kliphard teen mekaar kan deelneem en daarna steeds in goeie gees mekaar kan ondersteun wanneer ons teen die res van Suid-Afrika kompeteer. Ons wil ook die geleentheid gebruik om uit te reik na ons gemeenskap en te kyk hoe die twee skole saam ’n verskil kan maak in die dorp en kan teruggee aan die gemeenskap. Ons ouers en ondersteuners speel ’n ongelooflike groot rol in die sukses van die week. Sonder hulle is dit net nog ’n dag en nog ’n wedstryd. Ons weet egter dat die gemeenskap agter ons twee skole staan en dat Krugersdorp se gemeenskap nie net ongelooflik passievol is oor sport nie, maar ook baie omgee vir die dorp en sy mense,” het W.P. bygevoeg.

W.P. vertel die grootste uitdaging is om die ligabepalings van al die sporte in lyn te kry. Hulle glo egter dat hulle dit teen die einde van die jaar sal uitsorteer en dat die geleentheid van volgende jaar af as een week aangebied kan word, waar al die verskillende sporte sowel as kultuurafdelings saam kan deelneem en vir die gemeenskap die leerders se talente ten toon kan stel.

Trompie het vertel daar is deur die jare al hier en daar gepraat oor ’n interskole tussen Monnas en Nories, maar dit het nooit tot stand gekom nie. Verlede jaar het Nories hul afrigters genooi vir ’n funksie saam en dit was ’n groot sukses. Hy en W.P. gesels al ’n geruime tyd dat hulle wil kyk om ’n interskole tussen Monnas en Nories te laat realiseer. Hierdie jaar het hulle skouer aan die wiel gesit en dit laat gebeur.

Neem kennis dat beide skole al vir lank op netbal-, hokkie- en ander gebiede teen mekaar meeding as deel van ligabepalings. Beide skole het sowat 8–9 jaar terug in dieselfde liga op rugbygebied geëindig en ding sedertdien teen mekaar in Afdeling 1 van die Virsekerbeker mee. Hierdie is die eerste jaar wat dit so gekonsentreer word en opgebou word tot ’n volwaardige interskole waar meer sporte in dieselfde week betrek word.

‘n Norie speler na verlede jaar se derby-oorwinning. Argieffoto

Trompie sê die hoofdryfvere is as volg:

• Vertoonvenster vir Monnas en Nories: Monnas en Nories, as die twee makroskole in die Wes-Rand, bied alles en meer aan wat ’n laerskoolleerder benodig om sy talente te ontwikkel en as ’n bydraende volwassene uit te stap in sy matriekjaar. Daar is geen rede vir Wes-Rand-laerskoolkinders om op ’n bus te klim en ’n uur te ry na ’n Johannesburg- of Pretoria-skool nie. Beide Monnas en Nories is skole van die gemeenskap, skole om op trots te wees, elk met ’n ryk geskiedenis, wat topgehalte jongmense jaarliks die wêreld instuur. Ons het dit ook goedgedink om die interskole te bevorder deur ons gesamentlike hutsmerk, #houditplaaslik.

• Gemeenskapgedrewe: Hulle het dit goedgedink om saam met die loods van die interskole ook die 1887- (stigtingsjaar van Krugersdorp) projek te loods. Jaarliks met die interskole sal Monnas sowel as Nories saam ’n liefdadigheidsorganisasie oormerk waarvoor fondse ingesamel word en dit dan so oorhandig.

Die onderskeie hoofde van Monnas en Noordheuwel, Jan van Staden en Dawie Kriel skud blad vir die afskop van die opwindende Interskole-week.

“Hoërskool Monument en Hoërskool Noordheuwel is die twee top makroskole in die Wes-Rand. Beide skole kweek ’n diepe trots en liefde vir hul skool in die gemeenskap, leerders en oud-leerders met ’n ingeboude mededingendheid. Hierdie mededingendheid was al in die verlede toksies, maar ons is nie mekaar se vyande nie. Beide ons skoolkinders kom uit dieselfde gemeenskap, ons leerders was saam op laerskole en vind mekaar weer in hul hoërskooljare op die sportvelde as mededingers. Al kompeteer ons verwoed teen mekaar, is daar ’n onderliggende respek vir mekaar. Ons wil met hierdie ‘nuwe’ ingesteldheid die gemeenskap positief beïnvloed sodat samewerking verandering in die dorp kan meebring. As ons nie self na ons dorp kyk nie, gaan niemand nie. Die doel is dat ons interskole oor ’n paar jaar kan kompeteer met die kwaliteit van die twee Paarl-skole. Dit is dus nie uniek nie. Soortgelyke interskole-bepalings kom regoor Suid-Afrika voor. Ons het baie om te leer, maar ons weet daar is ruimte vir groei,” voeg Trompie by.

Trompie glo die dag wanneer elke groter-Wes-Rand-kind slegs die twee skole oorweeg as hul tuiste vir vyf jaar, dan het hulle geslaag. Dit gaan nie bereik word deur net op die twee skole te fokus nie. Verandering moet uitvloei na die dorp en wyer gemeenskap sodat verval gestop kan word. As die dorp agteruitgaan, gaan dit ook die skole negatief beïnvloed. Deel hiervan is om te poog om jaarliks die 1887-gemeenskapsprojek te groei sodat die twee skole saam ’n daadwerklike verskil kan maak waar dit die nodigste is.

“Ons is baie opgewonde oor die konsep en glo dat ons twee skole die vermoë het om dit een van die grootste skolegeleenthede te maak. Ons glo ook dat dit gebruik kan word om vir ons leerders nog ’n platform te bied om te presteer en raakgesien te word,” sê W.P.

Trompie vertel die ouers en ondersteuners speel ’n massiewe rol in die groei van hierdie interskole, sowel as die twee skole individueel.

Monnas se eerste netbalspan. Foto ingestuur

“Kom ondersteun die interskole. Skole is ’n groot gesprekspunt langs die braaivleisvure. Ondersteun ons twee Wes-Rand-skole wanneer die gesprek opkom, kom sien vir jouself wat die twee skole bied en vorm dan jou eie opinie. Moet ook nie vaskyk teen ‘duur’ hekgelde of toegangsgelde by so ’n dag nie. Elke toeskouer dra by tot die opheffing van die gemeenskap. Sien daardie gelde eerder as ’n belegging wat jy in die voortbestaan van die dorp maak.”

Trompie glo en voorspel dat dit binne ’n paar jaar een van die top vyf interskole in die land sal wees.

Beide hoofde, Jan en Dawie, het afgesluit dat hulle dit plaaslik hou en dat hulle die Wes-Rand só sterk wil maak dat ander moontlikhede buite vervaag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button