6 Proties gekies vir D2-hokkiespanne
Die harde werk en toewyding van ses Laerskool Protearif-leerders het vrugte afgewerp nadat hulle vir D2-hokkiespanne gekies is.
Ses Laerskool Protearif-leerders is onlangs vir verskeie D2-hokkiespanne gekies nadat hulle suksesvol deur verskeie keuringsrondtes gevorder het.
Die volgende leerders is vir die onderskeie ouderdomsgroepe gekies:
o12
• Zelri du Toit
• Dian de Waal
o13
• Malan van Zyl
• Pierre le Clus
• Ella Dempers
• Eldoné Bosch

Volgens die skool se hokkieorganiseerder, Tia Goosen, is dié prestasie ’n bewys van die leerders se harde werk, toewyding en talent op die hokkieveld.
“Die leerders moes aan verskeie keuringsrondtes deelneem, waartydens hul vaardighede, spelinset en sportmangees geëvalueer is. Ná afloop van die keuringsproses is hulle gekies om hul onderskeie D2-spanne te verteenwoordig,” het Goosen verduidelik.
Die spelers sal gedurende die wintervakansie saam met hul onderskeie D2-spanne op toer gaan, waar hulle teen sterk kompetisie te staan sal kom en verdere waardevolle ervaring sal opdoen.
Sy het bygevoeg dat die toer aan die spelers die geleentheid bied om hul vaardighede verder te ontwikkel, nuwe vriendskappe te bou en hul passie vir hokkie op ’n hoër vlak uit te leef.
“Hierdie prestasie dien ook as inspirasie vir ander jong sportlui by die skool. Ons is ongelooflik trots op hierdie leerders. Hul toewyding en deursettingsvermoë het vrugte afgewerp, en ons wens hulle alle sterkte toe vir die toer gedurende die vakansie,” het sy afgesluit.