Begin die krieketseisoen korrek
Maak seker dat die lengte en die gewig van die kolf die beste keuse vir 'n speler se speelbehoefte is.
Met die krieketseisoen wat sopas begin het is dit noodsaaklik om seker te maak dat jou kind met die regte toerusting sy talent en liefde vir hierdie sport uitoefen.
Werner van Heerden van VHF Sport in die Pick n Pay-inkopiesentrum in Noordheuwel sê dat dit belangrik is om daarop te let dat ‘n junior speler die regte kolf kry deur die speler met sy voete skouerbreedte uit mekaar te laat staan.
“Sit dan die kolf aan die buitekant van die regtervoet sodat die handvatsel van die kolf aan die linkerlies raak.”
Werner reken dat die beste opsie ook sal wees om ‘n ligte kolf aan te skaf, want ‘n te swaar kolf sal die speler se slaanvermoë vertraag wat die speler se selfvertroue om die sport te kan speel dalk eerder ‘n knou gaan gee.
“English Willow is verseker beter kwaliteit kolwe en behoort lank te hou indien die speler met sorg na die kolf kyk,” sê hy.
“Vir senior spelers is dit ‘n geval van die gevoel van die kolf. Meeste van die hoërskool en senior spelers speel met ‘n kolf waarvan dit meer te doen het met die tipe hout waarvan die kolf gemaak is en die gevoel van dit wanneer dit vasgehou word.”
