Beursfonds vir wiskunde-onderwysers

Dit kom na onlangse mediaberigte dat 96 persent van Graad 9’s in die land 50 persent of minder in 'n standaardstellingstoets vir Wiskunde behaal het.

Solidariteit Helpende Hand het vandeesweek ’n R250 000-beursfonds vir wiskunde-onderwys bekendgestel.

Dit kom na onlangse mediaberigte dat 96 persent van Graad 9’s in die land 50 persent of minder in ‘n standaardstellingstoets vir wiskunde behaal het.

“Die uitslae van hierdie nasionale assessering is uiters kommerwekkend en dui net weer op die reuse krisis wat tans in ons wiskunde-onderwys bestaan,” sê dr Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.

“Hierdie krisis kan enersyds toegeskryf word aan ’n ernstige tekort aan wiskunde-onderwysers en andersyds aan ’n groot gebrek aan vakkennis onder bestaande wiskunde-onderwysers,” sê hy.

Volgens Brink is die huidige tekort aan wiskunde-onderwysers baie groter as wat tans deur tersiêre instansies teengewerk kan word. Luidens ’n analise deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) verlaat tussen 18 000 en 22 000 onderwysers jaarliks die onderwysberoep. Dit is dus kommerwekkend dat Suid-Afrika se hoëronderwysinstansies jaarliks slegs tussen 6 000 en 10 000 nuwe onderwysers lewer.

Navorsing deur die departement van basiese onderrig toon dat daar nasionaal ’n tekort van 4 890 wiskunde-onderwysers en 4 552 wiskundige-geletterdheid-onderwysers bestaan. Hierdie tekort word vanweë verskeie redes hoofsaaklik in die platteland deur skole ondervind.

Behalwe die regstreekse tekort aan wiskunde-onderwysers blyk dit dat die wiskundige vakkennis en onderwysvaardighede van onderwysers dikwels gebrekkig is, sê Brink. “SAQMEC-III toon dat baie van Suid-Afrika se wiskunde-onderwysers ’n ondergemiddelde begrip van wiskundige vakkennis het. Volgens hierdie studie kon ’n aansienlike persentasie van wiskunde-onderwysers wat getoets is, nie eens vrae wat op hul Graad 6-leerlinge gemik was self beantwoord nie. Na raming het slegs tussen 32 persent en 42 persent van Suid-Afrika se wiskunde-onderwysers aanvaarbare wiskundige vakkennis.”

Brink sê dat Helpende Hand graag ‘n positiewe bydrae wil lewer deur geldelike steun vir tersiêre studies in Afrikaanse wiskunde-onderwys te bied. “Ons glo dat hierdie geldelike steun baie kinders van eersterangse Afrikaanse wiskunde-onderrig sal verseker en terselfdertyd help om die onderwyskrisis in die land op te los,” sê hy.

Helpende Hand se Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) lewer dwarsdeur die jaar ondersteuning aan Afrikaanse wiskunde-onderwysers deur middel van kongresse, kort kursusse, gereelde nuusbriewe, wiskundige hulpmiddels en ’n eksklusiewe webwerf. In 2014 sal meer as 1 000 Afrikaanse wiskunde-onderwysers aan VAW-aktiwiteite deelneem en sal die vereniging dus meer as 150 000 kinders bereik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button