Helder kleure en danspassies tussen sterre
Die Afrikaanse sanggroep Tussen Sterre het onlangs hul nuutste musiekvideo in Krugersdorp kom skiet.
Daar is bitter goeie nuus vir die ondersteuners van die Afrikaanse sanggroep Tussen Sterre wat van Krugersdorp afkomstig is.
Op 1 Mei het hulle hul nuutste enkelsnit, Wie jy is, se musiekvideo hier in Krugersdorp geskiet.
Die groep het vertel dat hulle teen einde Januarie aan die liedjie begin werk het en dat die inspirasie daarvoor uit die televisiereeks How I met your mother kom.
Dit gaan oor die gevoel wat jy kry as jy daardie meisie vir die eerste keer sien maar jy wil nie met haar gaan praat nie. Jy wil eerder net hê daardie een perfekte oomblik moet nooit ophou nie.
Die musiekvideo gaan oor die drie lede van die groep wie se aerobics-klas deur ‘n godin van ‘n instrukteur aangebied word.
Die drie lede, Johan van Dyk, Martin Earle en Jan-Mattys van Lill probeer dan elkeen hul eie danspassies om haar te beïndruk. Maar wie sy uiteindelik kies is ‘n verrassing vir almal in die klas.
Hulle het vertel dat hulle eers die video op ‘n rolskaatsbaan wou skiet, maar dat hulle besef het dat wanneer jy aan die 1980’s dink, ‘n aerobics-klas die eerste gedagte is wat by jou opkom.
Die tonele in die musiekvideo wys die drie sangers in stywe, helder oefenpakkies, omring deur mooi meisies in helder oefenpakkies. Hulle probeer dan die dansinstruksies volg maar sit so ‘n bietjie ekstra in.
Die snit is op 14 Mei bekendgestel.
Tussen Sterre is so besonders omdat al drie die groeplede na ander tipes musiek luister. Dit verseker dat die invloed vir hul liedjies uit alle oorde kom en hul musiek altyd anders klink.
Volgens die groep was die moeilikste aspek van hierdie musiekvideo die dans, die oefening, die stywe uitrustings en die gesweet.
Die liedjie sal bekend wees op drie musiekplatforms, naamlik Dukes Music App, iTunes en Google Play. Jy kan hulle ook volg op Facebook en Instagram by @TussenSterre.
Die afgelope jaar was vir hulle regtig rof. Hulle het byna 110 vertonings gedoen, toekennings gewen en ‘n nuwe produksiespan, Opposition Films aangestel.
Indien jy belangstel om hulle te bespreek, kontak gerus vir Stafanie van Marketing Zoo by 012 004 0642.

