EntertainmentLifestyle

Die Sjokolade Show sal jou laat smag na meer

Aktrise Lizz Meiring, sanger Jak de Priester en klankbaanskepper Heinrich Pelser bring binnekort Die Sjokoladeshow na 'n verhoog in Krugersdorp om die gehoor te vermaak met lipleklekker sjokoladestories.

Henrietta Gryffenberg is aan die stuur van ‘n nuwe toneelstuk wat beloof om die monde van die land se toneelliefhebbers te laat water. “Die Sjokoladeshow handel oor liefde, menswees en ‘n outsider wees; die goeie en slegte kant van soet,” het Henrietta Gryffenberg vertel.

Die stuk gaan vanaand, 11 Julie, op Hollywood Costumes se Kleinteaterverhoog te sien wees nadat dit by die Innibos Fees gedebuteer het.

Lizz Meiring en Jak de Priester bring Die Sjokolade Show Krugersdorp toe. Foto: Verskaf.

Die akteurs het op 11 Junie by Hollywood Costumer bymekaar gekom om ‘n idee van die lokaal te kry en te oefen aan die nuwe stuk. Heidi Bothma du Toit en haar span by Hollywood Costumes voorsien die kostuums.

Die borrelende en uiters talentvolle Lizz Meiring vertolk een van die hoofrolle. Maar, dit lyk of sy strawwe kompetisie vir die kollig gaan hê in die persoon van Jak de Priester, wat sy debuut as akteur maak. Jak is reeds welbekend as sanger en liedjieskrywer en hy sal weer eens die gehoor met van sy nuutste treffers bekoor wat volgens hom om die tema van soet en sjokolade draai. Dié musiek sal vir die eerste keer in hierdie toneelstuk gehoor word.

Lizz Meiring en Jak de Priester bring Die Sjokolade Show Krugersdorp toe. Foto: Verskaf.

Die Sjokoladeshow het ontstaan toe daar in samewerking met bekroonde skrywer Riana Scheepers ‘n uitnodiging aan plaaslike skrywers gerig is om verhale in te stuur wat sjokolade as tema het. Die verskeidenheid komedies, dramas, kortverhale en sketse is toe verwerk tot Die Sjokoladeshow. “Ons het ‘n klomp goed gekies wat saam ‘n goeie storie vertel. Ons het ‘n kleinhuisie vol inskrywings gekry,” het regisseur Henrietta gesê. “Ons wil hê almal moet net vir ‘n uur en ‘n half kan afsluit,” het Lizz gesê, en bygevoeg, “Die show is verrassend en het die verskeidenheid van ‘n boks sjokolade.”

Jak kon ook nie wag om met die onderbroek te spog wat hy in die toneelstuk dra nie.

Vir kaartjies skakel 011 660 4250 of 084 770 4697.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button