Oud-Norie en TV aktrise laat tweede roman die lig sien
Die boek is aktueel in die sin dat Sirië volgens mediaberigte weer eens ‘n brandpunt geword het.
Bekende TV-aktrise en oudleerling van Hoërskool Noordheuwel, Adriana Faling, se tweede roman, Die seders van Libanon, het so pas verskyn.
Die boek is geskryf teen die agtergrond van ISIS se oorlogvoering in Sirië en die gevolglike uittog van vlugtelinge na Libanon.
Adriana het intensiewe navorsing gedoen en het onder andere onderhoude met vlugtelinge in die kampe in Libanon gevoer.
In die boek neem Adriana die leser op ‘n ontdekkingsreis deur die werklikheid van die vervolgde kerk. Vlugtelingkampe en mensehandel maak deel uit van die ongenaakbare wêreld waarin vier jong vroue lewensbelangrike besluite moet neem.
Die boek is aktueel in die sin dat Sirië volgens mediaberigte weer eens ‘n brandpunt geword het.
Adriana se eerste boek, Rewolusie van die hart, het die Arabiese lente en die vervolging van Christene as agtergrond gehad.
Sy het haar loopbaan in die TV-bedryf begin en het verskeie rolle in Afrikaanse sepies en dramas vertolk, waaronder Egoli, Onder draai die duiwel rond (2), 7de Laan, Hart van Staal, Binnelanders, Geraamtes in die Kas, en meer onlangs, die mokumentêr, Hotel.
Sy was die gasspreker by Hoërskool Noordheuwel se prestige toekenningsaand op 21 Oktober.
Die seders van Libanon is beskikbaar by die meeste bekende boekwinkels.
Vir verdere inligting, skakel met Adriana by haar eposadres adriana.tollig@gmail.com.
