Sport

Zanté (10) wen Speler van die Toernooi by SA Ringbalkampioenskappe

In net ’n jaar het Zanté Fritz van Laerskool Protearif haar plek as top ringbalspeler in Suid-Afrika gevestig.

Zanté Fritz (10), ’n leerder van Laerskool Protearif en lid van Ringbal Suid-Afrika (RSA), het saam met die o.11-span onlangs aan die SA Ringbal Nasionale Kampioenskappe in Pretoria deelgeneem.

Nie net het die span goud verower en onoorwonne geëindig nie, maar Zanté is ook aangewys as Speler van die Toernooi – ’n uitmuntende prestasie.

Haar ma, Natashia Fritz, sê dit is besonders, aangesien Zanté eers verlede jaar by die Warriors Ringbalklub aangesluit het.

“Sy was toe ’n onervare speler wat nog nooit eers van ringbal gehoor het nie, en van daar af het haar passie vir die sport ontwikkel,” het Natashia gesê.

Zanté oefen soveel as moontlik, en toe haar gesin hoor sy is vir die span gekies, was dit ’n ongelooflik trotse oomblik.

“Nie eers te praat van die opgewondenheid toe sy as Speler van die Toernooi aangewys is nie. Dit was ’n groot emosionele en dankbare oomblik om te sien hoe haar harde werk, deursettingsvermoë en toewyding beloon word,” vertel Natashia.

Zanté fokus tans op die skoleliga, waarna die RSA-vertoonwedstryde in Pretoria, Polokwane en op die Wes-Rand volg.

“Ons is dankbaar teenoor haar afrigters, ondersteuningsnetwerk, asook Wes-Rand Ringbalklub wat haar die geleentheid gee om te groei. Ons sien met groot opgewondenheid uit na wat die toekoms vir Zanté inhou. Een ding is seker – hierdie is net die begin van ’n merkwaardige ringballoopbaan. Dis wonderlik om te sien hoe sport nie net fisiese vaardighede ontwikkel nie, maar ook haar selfvertroue, deursettingsvermoë en leierskap,” sê Natashia.

“Hierdie is ’n trotse oomblik – nie net vir ons gesin nie, maar ook vir haar skool en gemeenskap,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button