WAS-stigting bring Paasvreugde aan kinders en bejaardes
Meer as 500 inwoners, insluitend kinders en bejaardes, is met kos en Paaspret bederf deur die We’re Against Starvation-stigting.
Die We’re Against Starvation (WAS)-stigting het hierdie Paasfees vir minderbevoorregte inwoners bederf en gesorg dat hulle met ’n versadigde maag huis toe gaan.
Die WAS-stigting se missie is om honger mense met waardigheid te voed, en voorsien daagliks maaltye aan sowat 180 tot 200 kinders, terwyl ongeveer 350 ander mense in die middag by hul sopkombuis in Krugersdorp-Wes bedien word.
Lees ook: Tannie Koekie oorlede kort ná haar 100ste verjaarsdag

Op 31 Maart het die stigting kinders en bejaardes van die Krugersdorp-gemeenskap by Laerskool Ebenhaeser vir Paasfees onthaal. Volgens die stigter, Esmarelda van Zyl, doen hulle dit reeds sedert 2009. Elke persoon het ’n hamburger, lekkernye en koeldrank ontvang. Daar was ook ’n pastoor wat die Woord gedeel het, ’n dansgroep om die inwoners te vermaak, en die Paashaas wat Paaseiers uitgedeel het.

Esmarelda het genoem dat sowat 500 mense vir die geleentheid verwag is, waarvan omtrent 300 kinders van so ver as Tarlton gestap het om by die verrigtinge aan te sluit.
“Vir die meeste van hierdie mense is dié dag hul enigste spesiale Paasviering, en dit was ’n geleentheid om vir ’n oomblik aan die werklikheid te ontsnap,” het sy afgesluit.
