Proties trots op hul twee jong Leeus
: Twee jong rugbytalente van Laerskool Protearif gaan Gauteng verteenwoordig nadat hulle vir die Goue Leeus se provinsiale span gekies is.
Laerskool Protearif spog met twee leerders wat onlangs gekies is om die Goue Leeus se provinsiale span te verteenwoordig.
Volgens die skool se rugbyorganiseerder, Francois Pretorius, begin Rasmus Smith en Carlos Ravhusiwana reeds die naweek van 16 Mei met hul eerste voorbereidingswedstryde teen die Luiperds in Rustenburg as deel van die voorbereiding vir die provinsiale toernooi wat gedurende die winterskoolvakansie plaasvind.
“Die afgelope maand het hulle aan verskeie proewe en toernooie deelgeneem, met verdere kompetisies wat tot einde Junie sal voortduur. Gedurende hierdie tyd het hulle ook aan proewe teen Gauteng se topseuns deelgeneem,” het hy gesê.
LEES OOK: Late crash ends Binder’s French MotoGP challenge
Die komende toernooie vind in Rustenburg, Nelspruit en Volksrust plaas, waarna die hoogtepunt van die seisoen, die Cravenweek, by Grey College in Bloemfontein aangebied sal word.
“Die skool is ongelooflik trots op beide seuns. Hul harde werk, toewyding en deursettingsvermoë gedurende die rugbyseisoen is welverdiend beloon,” het Pretorius afgesluit.
