Local newsNews

Nommerpas rolstoeltjies maak ‘n verskil

Dries Teubes bou mini-rolstoeltjies met die doel om spina bifida lyertjies se lewenskwaliteit te verbeter.

SO stil stil maak ‘n klompie Tzaneeners ‘n reuse verskil aan die lewenskwaliteit van kinders wat met ernstige spina bifida gebore is.

Dries Teubes is by meeste Tzaneeners bekend as die man wat raamwerk doen, maar min weet dat hy graag in sy werkswinkel doenig raak met allerlei meganiese goeters en eksperimente wat hy op sy manier maak werk. In kort, is dit sekerlik nie verkeerd om hom ‘n vernuftige uitvinder te noem nie. Dries raak aan die “speel” in sy werkswinkel en kort voor lank kan jy maar weet, kom hy met iets prakties en werkbaar te voorskyn wat iewers die lewe vir iemand ‘n bietjie makliker sal maak.

Mariaan Teubes, Dries se jongste dogter, wat nou in Nelspruit as ‘n arbeidsterapeut spesialiseer, werk met baie spina bifida kindertjies. ‘n Rolstoeltjie wat as terapeutiese aparaat gebruik word, is teen derduisende rande ingevoer. Die rolstoeltjie is spesifiek vir gestremde kleuters kinders ontwerp, maar uit die aard van die saak onbekostigbaar duur vir die gemiddelde Suid Afrikaanse familie wat, soos dit is, sukkel om in ‘n gestremde kind se gespesialiseerde behoeftes te voorsien.

Mariaan het pa Dries se hulp ingeroep. Sy het geweet dat haar pa met sy vindingrykheid, sy vermoë om ‘n ding te kan laat werk en sy ongekende geduld hier ‘n plan sal kan maak.

Dit was ongeveer 18 maande gelede.

Die eerste rolstoeltjie is volgens spesifikasies vir klein Meyer Beukes, een van Mariaan se pasiëntjies, gemaak. Die stoeltjie het ‘n groot verskil in sy lewenskwaliteit en in sy familie se lewe gemaak. Soveel so dat sy ma, Kylah Beukes se grootste droom nou is om vir elke spina-kindjie in die land, ‘n rolstoeljie te kan skenk of teen ‘n baie beskostigbare prys te kan voorsien. So is die “Meyer Beukes Warriors on Wheels Foundation” gebore.

Sedertdien het Dries al omtrent 25 stoeltjies “gebou” en met die hulp van ‘n paar vrygewige Tzaneeners het dit mettertyd heelwat makliker gegaan.

Met Dries se vernuf en die donasies in verskeie vorme van ander besigheidsmense opTzaneen, is die rolstoeltjies nou baie meer bekostigbaar vir die kinders wat dit so nodig het.

“So baie mense se harte is oop om te help”

Mense soos Trevor en Sharon Thomas van Budget Freight wat die stoeltjies gratis vervoer na waar hulle ookal moet gaan. Stephan Olivier van Limco Packaging wat gratis bokse verskaf om die stoeltjies te verpak. Victor Walkinshaw van Build It wat die koperpyp vir die raamwerk teen kosprys verskaf. Michael de Jager van KM Bolt voorsien die draai-wieletjies ook teen kosprys.

So maak Tzaneeners ‘n reuse verskil in klein kindertjies se lewens.

Die Stigting bedank ook Bumbo Suid Afrika en die Universiteit van Pretoria vir hul bydaes en skenkings.

’n Baba wat met spina bifida gebore word – veral ernstige spina bifida – het ’n duidelike opening of gaatjie in die vel wat die ruggraat moet bedek. Spina bifida ontstaan wanneer iets verkeerd loop met die vorming van een of meer werwels in die ruggraat, gewoonlik dié naby die heup. Dié fout is letterlik ’n gat of spleet in die werwelkolom. Hierdie spleet kan groot skade berokken aan die sentrale senuweestelsel, wat die brein en ruggraat insluit. Soos ons weet, ontvang en stuur die brein boodskappe. Die boodskappe ontstaan uit dit waaraan ’n mens vat, voel of ruik; of dit wat jy sien en hoor. Die ruggraat is die weg waarlangs die brein boodskappe ontvang en stuur. As dit seerkry, is die gevolge verreikend.

Baie van hierdie kinders spandeer hulle hele lewe in ‘n bed. Sommige van hulle kan darem in ‘n sittende posisie van een plek na ‘n ander rondgedra word maar voltydse stimulasie en onderrig kos ‘n groot klomp geld en om ‘n ekstra twintig- of dertigduisend iewers te moet uitkrap vir ‘n rolstoel is in meeste gevalle onmoontlik!

Klein Meyer Beukes se ma Kylah weet hoe so ‘n stoeltjie ‘n hele familie se lewenskwaliteit kan verbeter en dit is die dryfkrag agter Warriors on Wheels. Haar droom is dat elke kind wat met spina bifida gebore word, so ‘n rolstoeltjie kan kry. Bekostigbaar of gratis, wat ookal moontlik is.

Die duurste komponent van ‘n rolstoeltjie is die Bumbo-sitstoeljie wat gebruik word om babas wat nog nie kan sit nie te ondersteun. Babas groei gewoonlik baie vinnig daaruit en soos met allerlei ander items wat uiteindelik nie meer gebruik word nie, beland dit in die stoorkamer of motorhuis.

Gaan grou gerus joune uit en skenk dit aan die Warriors on Wheels stigting. Dit sal ‘n lewe verander.

Die Warrior on Wheels Stigting, ‘n nie-winsgewende organisasie, kan gekontak word deur Kylah Beukes te skakel op 082 547 8815 of epos kylahbeukes@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button