HOëRSKOOL Merensky het op 16 Januarie te Hoërskool Rob Ferreira deelgeneem aan ‘n vriendskaplike, interskole atletiekbyeenkoms.
Nege skole het kragte gemeet, naamlik Lydenburg, Rob Ferreira, Komatipoort, Uplands, Bergvlam, Sybrand van Niekerk, Penryn, Curro Nelspruit en Merensky.
Hoërskool Merensky het geseëvier met ‘n pragtelling van 575 punte. Lydenburg was tweede en Rob Ferreira derde. Die atlete keer terug met 46 goue, 25 silwer en 23 brons medaljes.
Die Plasies het ook verskeie rekords laat spat. Die belowende nuweling, Christelle Coetzer (o/14), het rekords gebreek in die 200m – 27:90 sek, sowel as die 400 m – 1:02:57. Abdul Hussein (o/17) hoogspring – 1,85 m; Tertius Kruger (o/19) spiesgooi – 60,28 m (vorige rekord 53,50m); Phillemon Mabidilala (o/19) 110m hekkies – 15:00 sek (vorige rekord 15,09 sek).
Atletiekkoors loop hoog vir die komende interhoër byeenkoms in Polokwane, sowel as uitnodigingsbyeenkomste by Ben Viljoen in Groblersdal en Hoërskool Piet Potgieter.



