Local newsNewsSchool sportSport

Plasies meet kragte teen Louis Trichardt

DIE rugby-, en hokkiespanne van Hoërskool Merensky en Hoërskool Louis Trichardt het op 9 Mei kragte gemeet in Louis Trichardt.

Rugby:

Die Wit Leeus, eerstespan van Hoërskool Louis Trichardt, het gewys dat dit nie maklik is om hulle te klop op die klipharde Louis Trichardt-velde nie.

Vir die eerste 35 minute het dit gelyk of die jong Merensky-span dit gaan regkry om die wit gevaar ore aan te sit. Die Plasies is egter erg ontwrig na ‘n besering van een van sy staatmakers, die skrumskakel, Dylan Janse van Rensburg tydens die Limpopo proewe vroeër die week. Hoërskool Louis Trichardt, aan die anderkant, spog vanjaar met ‘n sterk span met soveel as agt spelers wat nog deelneem aan die laaste ronde provinsiale proewe.

Die Plasies het puik begin en baie goeie spel gelewer.

Die eerste strafskop in die guns van Hoërskool Merensky is met ‘n langafstand skop mooi deur die pale gestuur deur Tony Manamela.

Hoërskool Louis Trichardt het egter teruggeslaan met ‘n pragtige agterlynbeweging wat tot ‘n drie gelei het en verdoel is.

Met ‘n telling van 7-3 vir Hoërskool Louis Trichardt het die Plasies nie gaan lê nie en met puik lynstaanwerk en geduldige spel kort voor rustyd ‘n drie gedruk wat ook verdoel is om die telling op 10-7 vir Hoërskool Merensky te bring.

Hoërskool Louis Trichardt het in die tweedehelfte eerste ‘n strafskop oor die pale gesit en die speelveld weer gelykgemaak. Hoërskool Merensky het puik verdedig en dit het gelyk of Hoërskool Louis Trichardt net nie kan deurkom nie, toe ‘n oomblik van miskommunikasie in die Merensky-span hulle opponente ‘n drie onder die pale besorg.

Na hierdie drie het die Plasies alles probeer, maar kon nie weer punte aanteken nie. Die Wit Leeus samel egter in die doodsnikke van die wedstryd nog punte in met ‘n suksesvolle skepskop wat die finale puntetelling op 20-10 te staan bring.

Ware sportmangees het geseëvier toe die twee spanne aan die einde van die wedstryd saam ‘n sirkel vorm en vir mekaar dankie sê.

Hoërskool Merensky se o.14-span het op die dag die knie gebui met ‘n finale telling van 12-29, terwyl die o.15-span 15-15 gelykop gespeel het en die o.16-span spog met ‘n wentelling van 31-10.

Hokkie:

As gevolg van universiteite se opedae het die eerste meisieshokkiespanne hulle kragmeting geskuif na 21 Mei in Louis Trichardt.

Die 2de-span het vroeg al die oorhand gekry in hul wedstryd.

Hoërskool Louis Trichardt se verdediging was baie goed en het gekeer dat Hoërskool Merensky nog meer doele kon aanteken. Merensky wen 3-0.

Doele is aangeteken deur Kristen Adendorff, Altacia Gubitz en Izel Pieterse. Spelers van die wedstryd was Mariska Fourie en Anna Mende.

Hierdie span dring deur na die Limpopo semi-finaal.

Die o.16 meisiespan het veggees getoon en nooit ophou baklei nie. Hulle wen 2-0. Spelers van die wedstryd was Clariska Venter, Arnri Janse van Rensburg en Amelia Middleton.

Die Plasies se o.15 meisies was op ‘n oorlogveld. Drie van die spelers het beserings opgetel tydens die wedstryd. Ten spyte van al die chaos het hulle deurgedruk en 3-0 gewen. Hulle dring deur na die Limpopo semi-finaal.

Die o.14 dogters het gelyk of hulle nie in die eerste helfde kon afrond nie, maar het in die tweede helfde, met pragtige samespel en deursettingsvermoë, gewys waarvan hulle gemaak is en die wedstryd 4-0 gewen.

Die Plasies se eerste seunspan het vir die hoeveelste keer hierdie seisien gelykop gespeel en van die veld gestap met ‘n 0-0 telling. Die spelers het baie hard gewerk, maar kon net nie ‘n deurbraak maak nie.

Die tweede seunspan het ‘n skitterende wedstryd gespeel.

Hulle wen 3-1 en doele is aangeteken deur Wayne Coppen en AJ Fourie (twee doele).

Die o.15 Merensky seuns verloor 1-0. Dieselfde span het verlede jaar 12-0 teen Louis Trichardt verloor. Die afrigter, Louis Fourie is teleurgesteld, maar spreek sy vertroue uit dat die duidelike vooruitgang in die span een van die dae vir goeie tellings op die puntebord gaan sorg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button