TZANEEN: Seun sterk aan by huis na “onpadwaardige” trok ongeluk veroorsaak
"Dis net deur God se genade wat my seun nog leef".
So vertel die ma, Karen Claassen, na haar seun, Benhardt Claassen (19,) teen ‘n skynbaar onpadwaardige trok vasgery het.
Die ongeluk het Dinsdagaand ongeveer 20:00 op die R36 pad van Tzaneen na Modjadjiskloof plaasgevind.

Benhardt was oppad huistoe na hy moes werk het die aand.
LEES OOK: Trok ongeluk op Magoebaskloof eis lewe
‘n Trok het groot houtstompe vervoer en volgens ‘n ooggetuie wat die ongeluk gesien het, het die trok geen ligte aan gehad nie.

Dit blyk volgens inligting dat Benhardt aan die linkerkant van die pad gery het en nie die trok gesien het nie. Hy het uitgeswaai vir die trok. Die bakkie het regoor die pad gerol en by ‘n T-aansluiting tot stilstand gekom.
“Hy kan nie onthou wat gebeur het nie, die laaste ding wat hy kan onthou is dat daar iemand ligte in sy oë geskyn het na die ongeluk,” vertel sy ma.

Benhardt was in Tzaneen MediClinic opgeneem met ligte beserings maar sterk tans by die huis aan.
Die vraag op vele lippe is wat maak so ‘n trok op die pad?
“Wat gaan hulle daaraan doen? My seun kon sy lewe verloor het,” vra sy ma moedeloos.
LETABA HERALD het nog nie ‘n polisie verslag ontvang nie en sal ‘n opvolg plaas in volgende week se koerant.
Benhardt en sy gesin wil graag van die geleentheid gebruik maak om almal te bedank wat bystand gelewer het, veral die nooddienste wat vinnig op die toneel was.



