Tzaneen Eva’s trap berg uit
Moet nie Tzaneen se voltydse werkende vroue en ma's onderskat nie.
Op Saterdag 8 September het agt van Tzaneen se Eva’s vertrek op ‘n ‘Cycling Gourmet Experience’ toer in Prince Albert. Van die Maandag tot die Vrydag is die Prince Albert Groot Karoo omgewing elke dag plat gery met hul fietse onder leiding van hul toergids Arno Botha.
Smiddae het hul kookklasse gekry by proffesionele kok Jeremy Freemantle of die heerlike kaas, olyf en wynplase in die omgewing besoek! Die hoogtepunt van die week was egter die magtige Swartbergpas op dag 2.
Op Dinsdag 11 September het sewe van die vrouens die Swartbergpas aangepak.
Dit is slegs 20 km lank maar met ‘n stewige 1 015 meter klim. Die laaste 1,7 km het ‘n gemiddelde gradiënt van 12% !
Al sewe vrouens het die top van die Swartberg bereik en kon in die sneeu hul prestasie vier.
Gerna van Rijn- plaaslike landdros het nie self saam die pas uitgery nie maar die groep tot bo ondersteun en dit saam met hulle weer afgery wat natuurlik ook uitdagend was, is aan LETABA HERALD vertel.
Vanselfsprekend was almal baie ingenome met hulself met wat hulle bereik het maar hul het eintlik eers later die waarde van die prestasie besef toe die ander toeriste en bekendes in die omgewing en tuis nie kon glo wat hul vermag het nie.
“Respek” is hoe ‘n Duitse tannie dit glo opgesom het.
Dit wil net weereens bewys dat gewone voltydse werkende vroue en ma’s nie onderskat moet word nie. Prince Albert, die Swartberg en hul mense het hul harte gesteel. Hegte vriendskapbande is gesmee en hul beplan reeds hul volgende ekspedisie.