Local newsNews

Maritza is ongeblus, vuur en vlam

Dit is in die reuk van strooi wat brand, die vlamme en hitte.

Alles Maritza Swanepoel se passie, wat die rol vertolk as die hoof van die logistieke afdeling by die Letaba Fire Protection Assocation (LFPA).

Bertus de Bruyn het gesels met haar. Maritza is een van die rolspelers wat bankvas staan agter ons manne wat brande bestry vanuit die lug en op die grond in ons omgewing. Swanepoel woon sedert 1995 in Tzaneen. “Ek is hier getoë, maar nie ‘n gebore Tzaneener nie. Ons gesin het in 1995 Tzaneen toe verhuis en ek het gematrikuleer aan die Hoërskool Merensky,” vertel sy.

Swanpoel is in 2012 in die eg verbind met Tinus en hul eersteling, MJ is in 2014 gebore. Sy verwerf haar BA graad in kommunikasiewetenskap deur UNISA in 2013. Sy was eers ‘n joernalis maar sy het haar pen in die sak gesteek en het in 2011 by die LFPA aangesluit. Letterlik ‘n warm skuif. “Ek het ‘n absolute passie vir die brande. Ek hou van die strooi-reuk, die vlammegloed, die hitte en natuurlik die helikopters,” vertel sy.

En soos sy dit stel is daar iets in die vuur wat haar hart trek. “Ek dink my liefde vir vuur het begin as kind om die braaivleisvuur,” het Maritza voortgegaan en interessant genoeg, hulle klein seuntjie word net so gefassineer deur ‘n braaivleis vuur. Swanepoel is aanvanklik destyds aangestel as woordvoerder van die LFPA maar in 2013 het sy oorgeskuif na die adminastriewe gedeelte van die organisasie. Haar hoofrol wanneer ‘n brand ontstaan is eerstens om sosiale media te hanteer asook die logistieke uitdagings wat gebied word tydens groot brande soos bv. die verspreiding van kos en water.

“Ek werk saam met ‘n span uitmuntende vrouens en laastens moet ek die uitreiking van fakture na afloop van ‘n brand hanteer,” vertel die vuurliefhebber. Sy kan spreekwoordelik as die ‘beskerm-engelma-figuur” beskou word wanneer daar ‘n vuur woed, maar sy bly egter beskeie oor haar aandeel in brandbestryding. “Elkeen het sy rol om te speel tydens die brande en ons werk as ‘n span saam en help waar ons kan en ondersteun mekaar,” sê sy.

“Dis moeilik in die aande, want ons vliegtuie mag net vlieg tot sonsondergang. Dit het al gebeur dat ek in die aand uitgaan met bottels water of ‘n fles koffie vir die brandbestryders.”

Swanepoel voel sterk dat dit in elke vrou sit om die wêreld ‘n beter plek te maak en verandering te weeg te bring. “Vroue is so wonderlik geskape en as hulle hul vuurdoop deurstaan het, kan hulle enige iets vermag.”

Maritza beskik nie oor bo natuurlike kragte nie maar die vrou dra die stempel van ‘n hedendagse Super-Woman. “Soms kan my werk nogal uitdagend wees om die enigste roos tussen die dorings te wees en gooi dan ‘n paar vlieëniers tussen in en ‘n hele komitee bestaande uit mans. Iewers kry jy dan super powers vandaan,” vertel sy. Swanepoel wil graag verandering in die gemeenskap bring na aanleiding van haar werk.

“Die land is nou so onderstebo maar as elke grondeienaar sy deel doen met betrekking tot voorbereiding, opleiding, toerusting en toepaslike klere, is dit darem een ding minder om oor bekommerd te wees.”

En met so ‘n klein bietjie bemarking taktiek nooi sy almal uit om ‘n lid te word van die LFPA.” “Want ons help graag,” bemark sy voort. Maritza kan ook haar man staan tydens ‘n brand en het al self met ‘vroue-moed’ ingespring om ‘n vuur te help bestry. “‘n Paar jaar gelede het iemand se plaas gebrand anderkant Tarentaalrand en hulle het nie brandbestryding toerusting gehad nie, ek het mango takke afgepluk en brand geslaan,” vertel sy. Maar haar werk is nie sonder vrees vir ‘n onverwagte tragedie nie.

“Ons het soveel gewillige mense in die omgewing wat sommer inspring en vreemdelinge help tydens ‘n brand. Maar dis ‘n waagstuk, want hulle ken nie die plaas nie en weet nie waar die toegangs- en uitgangroetes is nie. Ek is altyd bang hulle word vasgekeer, want ‘n brand draai soos blits,” vertel sy. Sy sal graag ook voorts wil sien dat meer opleiding verskaf word in die voorkoming van brande. “Ek voel daar is ‘n tekort aan opleiding maar ons het soveel kennis in die omgewing, ‘n ervare persoon sal inspring met goeie hulp en raad en leiding. Die plaaslike gemeenskap is ook gelukkig paraat en sal sommer vinnig laat weet as hulle ‘n rokie sien trek.”

Haar toekomswens is om te sien dat grondeienaars baie goeie verhoudings met mekaar sal hê en dat elke grondeienaar in die Groter Tzaneen en Letaba areas ‘n lid van die LFPA sal word.

Maritza streef daarna om haar self te verbeter en is dan ook bevoorreg genoeg om volgende jaar weer ‘n deeltydse student aan die Nelson Mandela Universiteit (George kampus) te wees. “Ek gaan veldvuur-bestuur studeer. Een van die dae sal ek baie meer op die vuurlyn wees instede van agter my rekenaar,” vertel sy geesdriftig.

Vir die vroue daar buite het sy ‘n warm Vroudag boodskap wat knetter. “Wees vasberade, wees vuurberade. Vrouens vat vlam en vat vas.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button