Local news

Herrie bars los rondom twee ‘scramblers’ op die damwal

‘n Herrie het die afgelope paar dae op sosiale media losgebars en tot ‘n ‘soektog’ na twee jong manne op motorfietse gelei nadat ‘n vrou na bewering op die Tzaneendamwal omgery is.

Die insident het Sondag om ongeveer 17:00 plaasgevind en is wyd versprei op sosiale media, waar daar beweer is dat die betrokke jong manne nie gevind kon word nie. Daar word beweer dat een vrou se knie en gewrig gebreek is na die insident en die Herald het bevestig dat een jong man se hand ‘n besering opgedoen het. Die twee jong manne en een van die vroue wat betrokke was by die insident, se identiteit is aan die Herald bekend, maar word weerhou siende dat die insident nog ondersoek word en die saak sub-judice is.

Die Herald het met een van die jong manne se pa gesels om klaring te kry rakende die aangeleentheid. “Die seuns was Sondagaand reeds in kontak met die twee vroue wat betrokke was by die insident. Al die rolspelers praat met mekaar. Ooggetuies is betrokke en verklarings word afgelê,” sê die een jong man se pa. “Daar is nie weggejaag soos wat daar beweer word nie. Na die insident het die partye afgespreek om mekaar later te ontmoet,” vertel hy. “Dit is op sosiale media veel groter opgeblaas as wat dit werklik was,” verduidelik hy.

Lees ook: Reën, reën en nog reën val

“Die inskrywing op Facebook is sowat 450 keer gedeel. En is later verwyder. Baie dinge is deur baie mense in ‘n baie kort tydjie gesê, en ons as ouers kan nie aan elke persoon individueel verduidelik wat gebeur het nie. Daar is ‘n menigte aannames, aantygings en spekulasie,” sê hy. “Kyk, die seuns skrum nie weg van wat gebeur het nie en daar was gevolge by die huis gewees. Verál van die seuns se ma’s af,” sê hy. Hy voeg by dat daar volgende week ‘n vergadering tussen die partye gehou gaan word om sake uit te klaar. “Die seuns besef nou hulle mag nie op die damwal wees nie. En hulle besef dat hulle verkeerd was,” voeg hy by.

“In die stadium is daar geen kriminele klag nie, maar daar is siviele gesprekke,” verduidelik hy. Die Herald het een van die vroue wat betrokke was in die insident probeer skakel, maar het teen druktyd geen kommentaar ontvang nie. Die Herald sal die vroue se kommentaar ten volle publiseer sodra dit ontvang word. Die Tzaneense polisiewoordvoerder, sers. Maurice Nkwashu, het bevestig dat daar tans ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word en dat kol. PR Zitha die ondersoekende beampte is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Anwen Mojela

Anwen Mojela is a journalist at the Letaba Herald. She graduated with an Advanced Diploma in Journalism at the Tshwane University of Technology. Including an internship and freelancing, Anwen has four years’ experience in the field and has been a permanent name in the Herald for nearly three years. Anwen’s career highlights include a water corruption investigative story when she was an intern and delving into wildlife and nature conservation. “I became a journalist mainly to be the voice of the voiceless, especially working for a community newspaper. Helping with the bit that I can, makes choosing journalism worth it.

Related Articles

Back to top button