jani se liefde vir perde kry vlerke
Jani van der Mescht het op 23-jarige ouderdom haar eie ryskool, Dream with Wings, op Mooketsi begin.
“Ek het ‘n groot liefde vir perde, die natuur en boerdery en het op vierjarige ouderdom reeds begin ry,” vertel Van der Mescht. Sy het as negejarige met perdryklasse begin en na sy met skouspring, uithouritte en Western Mounted Games goed gevaar het, het sy na skool besluit om by die Mooikrans Opleidingsinstituut op Amersfoort equus-opleiding en perdondersteunde terapie te gaan studeer.
“In my praktiese tyd het ek vir vier weke ‘n negejarige seuntjie gehelp met perdondersteunde terapie. Hy was geboelie en het ADHD gehad en kon aanvanklik nie self op die perd klim nie. Ons het aan sy selfvertroue gewerk en het spelling en wiskunde by die sessies ingewerk. Die seuntjie se skoolpunte het wesenlik verbeter en hy vinnig genoeg selfvertroue gehad om die perd te vang, op te saal en op te klim soos wat ons gevorder het,” vertel sy.

Lees ook: Ruiter is Suid-Afrikaanse kampione
Sedertien het sy in Mpumalanga vir ‘n jaar lank saam met vriende wilde perde in die veld gevang, ingebreek, opgelei en verkoop. Sy ook by Silver Mist in Magoebaskloof met ‘n prag-Arabierstoet gewerk en by ZZ2 ervaring opgedoen in die verskillende landbou-afdelings. “Ek het dit baie geniet om by die vee-afdeling te werk en het ‘n groot passie vir beesboerdery. Ek het dit ook geniet om met tamaties te boer,” sê sy.
Vandag bied Van der Mescht ryklasse in halfuursessies vir kinders onder nege jaar aan en 50-minuutsessies vir kinders ouer as nege jaar. Sy het tans ook twee Nooitgedacht-perde wat sy oplei. Haar eie perd, Natal, ‘n Arabier en Amerikaanse naelperd-kruising, het sy al vir die afgelope agt jaar. “Natal is vir my baie spesiaal, ons het ‘n hegte band en hy is baie goed met kinders,” vertel sy.
Haar volgende stap is om stalle en ‘n arena te bou op Wagendrift-plaas op Mooketsi waar sy ‘n veld huur vir die perde en opleiding gee. Sy gee rylesse vir beginners en gesoute ruiters en doen ook Western Mounted Games, “barrel racing” en skouspringopleiding met ruiters en perde op Tzaneen en Mooketsi, maar is toegerus om ook rylesse in Makhado, Polokwane en Letsitele te gee indien daar belangstelling is.
Vir meer inligting gaan na www.dream-with-wings.com of skakel Jani van der Mescht op 066 302 1489.



