Genoeg geld vir seun se operasie
Ruan Weideman, ‘n 16-jarige leerder van Hoërskool Ben Vorster sal Maandag by die Unitas-hospitaal in Pretoria geopereer word om ‘n vinnig groeiende gewas te verwyder.

Die Herald het ‘n paar weke gelede berig dat die lewensgevaarlike gewas deur uitgebreide kaak- en middelgesig-chirurgie verwyder moes word en dat Ruan se gesin ‘n beroep doen om hulp om die operasie moontlik te maak. Die gesin het nie ‘n mediese fonds nie. Sedertien is daar R480 000 ingesamel om die chirurgie moontlik te maak.
Daar is ongeveer R67 000 deur die Back-a-Buddybladsy ingesamel, Caring Daising het sowat R162 000 ingesamel, Jacaranda FM se Good Morning Angels-program het R150 000 van Lotto Star beskikbaar gestel en R100 000 is deur die Benjamin Osmers-fonds geskenk. Die bydraes sal Ruan se operasie- en intensiewesorgkostes dek. “Dit was ‘n emosionele paar weke met baie spanning, planne maak, skok en soms teleurstelling, maar dit gaan goed onder omstandighede,” vertel Nadine Weideman, Ruan se ma.
Lees ook: Ruan (16) moet dringend operasie kry
“Ons weet nog nie hoe hy na die tyd gaan voel nie en daar is nog baie onsekerhede, maar hy gaan in goeie hande wees met ‘n multidissiplinêre span chirurge en dokters wat hom gaan opereer,” sê sy. Sy tweelingbroer, Erard, sal Maandag saam met Nadine en Ruan na Pretoria reis. Die operasie sal ongeveer vyf ure duur. Die gesin benodig steeds geld vir Ruan se nasorg en die rekonstruksiechirurgie en daar word ‘n beroep gedoen op skenkings.
Die totale koste vir sy behandeling gaan ‘n beraamde R2 miljoen beloop. Besighede en individue wat graag ‘n donasie wil maak, kan Moné Pieterse by 079 503 2004 skakel vir die NPO, Caring Daisies, se bankbesonderhede. Caring Daisies sal die geld hanteer en kan ook ‘n artikel 18A-belastingsertifikaat uitreik vir alle bydrae bo R5000. Die Back-a-Buddy-blad is by www. backabuddy.co.za/campaign/hope-for-ruan beskikbaar vir skenkings.
Lees ook: Tyler se sus ‘n gepaste skenker
Round Table 96 Tzaneen in samewerking met ander plaaslike liefdadigheidsorganisasies beplan ook om binnekort ‘n raakrugbytoernooi aan te bied ten bate van Ruan. Hou sosiale media en die Herald dop vir meer besonderhede oor die toernooi. Skakel Martin van der Schyff by 083 453 9892 om betrokke te raak by die projek, #Hope4Ruan



