Letsitele inwoners wil Muni hof toe vat oer geen krag
GTM se infrastruktuurtekortkominge is onder skoot ná die Letsitele-vallei-ramp en die DA eis aanspreeklikheid.
TZANEEN – Die Groter Tzaneense Munisipaliteit is in die spervuur na boere en sakeondernemings in die Letsitele-vallei skade gely het.
Die skade volg na groot dele in die Letsitele-omgewing sonder elektrisiteit gelaat is na ‘n storm op 27 Oktober, terwyl verwoestende veldbrande geheers het.
Volgens ‘n verklaring deur DA-raadslid vir infrastruktuur by die GTM, Chrisma Bredenkamp, kon daar gevolglik geen water gepomp word om die vure te blus nie.
“Die omdraaitydperk vir die herstel van die kraglyne wat beskadig is, is vererger deur die verouderde infrastruktuur, maar was ook verder vererger deur interne probleme van ‘n beweerde staking deur die elektrisiëns by die GTM,” verklaar Bredenkamp. Dit het rampspoedige gevolge vir die Letsitele-gemeenskap gehad siende dat daar nie water gepomp kon word om die veldbrande wat gewoed het te blus nie en daar baie skade aangerig is,” verklaar sy.
Volgens die verklaring sal die DA vrae aan die Speaker van die GTM, Sanie Tiba, rig rakende die algehele toestand van die elektriese-afdeling vir bespreking op die volgende raadsvergadering op 30 Januarie.
Hulle sê verder in die verklaring dat die DA die bestuur van die elektrisiteitsafdeling, hul begroting, menslike hulpbronne, voertuie, toerusting en onderhoudsplanne gaan ondersoek.
In reaksie hierop het die GTM gesê hul behou die reg voor om nie kommentaar te lewer op die verklaring wat deur die DA uitgereik is nie. “Siende dat dit formeel aan die speaker gerig is, sal ‘n reaksie op die vrae tydens die volgende raadsitting deur die raad voorsien word,” sê Vutivi Makhubele, GTM se woordvoerder.
Tydens ‘n gemeenskapsvergadering verlede Woensdagaand op Letsitele, is onder andere die regsopsies van diegene wat skade gely het, bespreek.
Die noodvergadering is deur sakelui, boere, plaaslike politici, regsgeleerdes en inwoners van die omgewing bygewoon.
Die Herald verneem dat die opsie om die GTM in die hof aanspreeklik te hou vir die beweerde versuim om pligte uit te voer, nalatigheid en wanbesteding onder bespreking was.
Die Herald sal verslag lewer op die ontwikkelinge soos dit ontvou.



