Onnie red 2 meisies uit hel
Mari Bruwer, die onderwyser wat twee meisies van die skokkende hel en uitbuiting in die Letsitele-omgewing help red het, het aan Herald-joernalis Liesl Pohl die pad wat sy saam met hulle gestap het, vertel.
Bruwer beskryf haarself as ‘n nederige onderwyser, maar in realiteit is sy ‘n kampvegter vir kinderregte en ‘n baken van hoop vir weerlose jong meisies. In Junie, kinderbeskermingsmaand, jeugmaand, is Bruwer se boodskap: “Weerlose kinders moet nie deur die krake van die samelewing val nie. Rapporteer ‘n rooi vlag. Rapporteer kindermishandeling. Jy red dalk ‘n kind se lewe.
” Haar eie lewe as remediërende onderwyser en haar gesin se geliefde ouma is in 2023 omvergewerp na sy, met die hulp van plaaslike instansies en owerhede, twee minderjarige meisies gered het van “lewende hel” aan die hande van, onder andere, manlike familielede. Die skokkende mishandeling en uitbuiting van twee meisies by Half Human, ‘n woongebied op ‘n plaas langs die R71-pad tussen Tarentaalrand en Letsitele, het volgens Bruwer selfs geharde mediese ondersoekers in trane gehad.
Lees ook: Lewenslank: Pa skuldig aan verkragting van dogters (9 en 11)
Bruwer vertel hoe sy en Hellen Marima, maatskaplike werker by die SAVF se Tzaneen-tak hartsvriendinne geword het in die twee jaar wat die saak in die howe aangehoor was. Beide vroue het getuig van die kinders se sielkundige en fisiese letstels en wonde as gevolg van jare se uitbuiting, mishandeling en seksuele misbruik. “Die meisies was erg verwaarloos, dit was die eerste rooi vlag. ‘n Leë lêer by die skool was die tweede rooi vlag. Daarna was daar te veel rooi vlae om op te noem.
Hulle wou nie praat nie, maar het briewe geskryf en prente geteken wat uiteindelik die brutale mishandeling en gereelde verkragting van die meisies blootgelê het,” vertel Bruwer. In die twee jaar wat die kriminele saak afgespeel het, het Bruwer na die kinders omgesien en was sy vir hulle ‘n plek van veiligheid. “Hulle het my vertrou. Ek kon hulle nie net los nie.” In dié tyd het een van die beskuldigdes (wat selfdood gepleeg het voor die hofverrigtinge begin het) haar gedreig met die dood. “Ek is soms kwaad dat hy nie in die hof kon antwoord vir sy misdade nie. Hy was ‘n monster.”
Lees ook: Giyani protest turns violent as police shoot demonstrator
Die kinders se biologiese pa en sy vriend is lewenslange tronkstraf opgelê in die Polokwane Hooggeregshof. Om die kinders te beskerm word die skuldiges se name nie bekend gemaak nie. “Ek is dankbaar dat die meisies nou veilig is. Ek is dankbaar vir die ondersteuning van die personeel en beheerliggaam van Laerskool Dr Annecke, die Tzaneen gesinsgeweldeenheid, die SAVF, Helpende Hand, Privadect en die landbougemeenskap van Letsitele wat my, en veral die kinders, bygestaan het.” Vir Bruwer is aftrede vir seker nog nie ‘n opsie nie.
“Ek veg voort vir God se kinders.” Sy voeg by dat daar verdere maatskaplike en kriminele ondersoeke verwant aan die saak, steeds onderweg is. Om betrokke te raak as ‘n vrywilliger of ondersteuner by plaaslike kinderwelsynsorganisasies maak ‘n daadwerklike verskil in die lewens van weerlose kinders. Skakel Trudi Schwartz by 083 579 5480 om aan te sluit by die SAVF Tzaneen-tak en skakel Chanté Lamprecht by 072 677 4664 om by Helpende Hand Tzaneen-tak betrokke te raak.



