Merensky se gr. 12’s sluit skooljaar op hoë noot af
Merensky Landbou Akademie se matrieks het hul skooljaar op 'n hoë noot afgesluit tydens die gr. 12-erediens en -prysuitdeling op 17 Oktober.
TZANEEN – Met die matriekeksamen wat 20 Oktober begin het, het Merensky Landbou Akademie se matrieks hul skooljaar op ‘n hoë noot tydens die gr. 12-erediens en -prysuitdeling op 17 Oktober, afgesluit.
Die oggend is feestelik geopen deur ds. Timo Beukes, wat die matrieks bemoedig het met ‘n inspirerende boodskap vir die komende eksamens én die lewe na skool. Sy dogter, Christené Beukes, ook ‘n gr. 12-leerder, het die lied, The Prayer gesing.
‘n Hartroerende oomblik het gevolg toe die SAVF Kleuterskool en Laerskool Tzaneen se gr. 1’s die matrieks sterkte met hul eksamens toegewens het.
Een van Merensky se gr. 12’s, Cashan Jacobsz, is saam met sy jonger boetie uit dié kleutergroep afgeneem, ‘n ware sirkel-van-lewe oomblik.
Daarna het hoofleiers van plaaslike laerskole die gr. 12’s toegespreek, en Merensky se hoofmeisie vir 2024/25, Euné Pohl, het die gehoor meegevoer met haar vertolking van Time to Say Goodbye.
Die prysuitdeling is amptelik afgeskop deur Felix Nomvela (Tzaneen-distrikbestuurder) en Phillipine Modika (distriksdirekteur, Mopani-Wes), wat talle toekennings aan die gr. 12’s oorhandig het. ‘n Aantal Plasies is vanjaar onder die top 100-leerders in die Mopani-distrik, met Christené Beukes as uitsonderlike toppresteerder wat ‘n spesiale toekenning en staande toejuiging van haar klasmaats ontvang het.
Leerders wat pryse ontvang het is:
• Christené Beukes – Dux-leerder; ontvanger ‘n beurs van R11 000 aan die Universiteit van Pretoria.
• Tamar Kellerman – senior landbou-ambassadeur; kontantprys van R11 000 geskenk deur die Kallos Group.
• Ethan Britz – toekenning vir getroue diens aan die uitvoerende komitee.
• Marli Ouwenkamp – Lydia de Wet-toekenning vir getroue en onbaatsugtige diens.
• Christi Boshoff – Sakkie Meyer-toekenning vir volharding en toewyding.
• Gihon van Rensburg – ‘n Plasie Gaan Lê Nooit-toekenning.
• Carel Volschenk – toekenning vir boere-ordentlikheid.
• Euné Pohl – Plasie van die Jaar-toekenning.
Elke matriekleerder het daarna die geleentheid gekry om die klok te lui.
Hierdie tradisie is simbolies van die einde van hul skoolloopbaan by Merensky.
Hulle het die saal onder toejuiging verlaat deur ‘n erewag van gr. 8-leerders, waarna die tradisionele gooi van die graadhoede, die brand van die “M”, en ‘n laaste “Merensky in Union” gevolg het.






