Merensky Hokkiefees brei uit tot grootste ooit
Merensky Hokkiefees 2026 word die grootste ooit met 51 spanne, ontwikkelingsaktiwiteite en sterk vertonings op die veld.
TZANEEN – Merensky Landbou Akademie het gedurende die afgelope skoolvakansie twee uiters suksesvolle hokkieweke, bekend as die Merensky Hokkiefees, van 28 Maart tot 2 April, aangebied.
Die fees is vanjaar uitgebrei na twee afsonderlike weke, nadat die aanvraag van deelnemende skole aansienlik toegeneem het.
In die verlede is slegs een hokkieweek aangebied, maar vanjaar is dit verdeel tussen ’n o/16-week vir seuns- en meisiespanne, en ’n o/18-week vir seuns- en meisiespanne.

Dit was sonder twyfel Merensky se grootste hokkiefees nóg.
51 spanne neem deel op twee velde
Altesaam 51 spanne van 22 skole het aan die fees deelgeneem.
Wedstryde is gespeel op Merensky se bekende Blou Astro, asook op Stanford Lake College (SLC) se astroveld.
Ontwikkeling en spanbou buite die veld
Benewens die opwindende wedstryde, is daar ook verskeie ontwikkelings- en ontspanningsaktiwiteite vir spelers aangebied.
Dit het motiverings- en karakterbou sessies deur Charl Naudé ingesluit, gimnasiumsessies saam met Nickey Steyn en Ilse Kok in die Merensky-sportsentrum, kardio- en kragoefeninge in SLC se verhitte onderdak swembad, asook doelwagter-opleidingsessies deur Merensky se eie doelwagterspesialis Reinhardt Blokker.
Spanbou-aktiwiteite by SLC, soos vlotbou, bergfietsry, kajakvaart en avontuuraktiwiteite het verder bygedra tot die unieke ervaring.
Sterk vertonings op die veld
Op die veld het Merensky se spanne hul staal behoorlik gewys.
Die o/16A-seuns het al hul wedstryde gewen, terwyl die o/16B-seuns drie van hul vier wedstryde gewen het en een gelykop gespeel het.

Die eerste seunspan het al hul wedstryde oortuigend gewen, terwyl die eerste meisiespan vier van hul ses wedstryde gewen het en twee wedstryde gelykop geëindig het.

Hoogtepunt van elke week
’n Besonderse hoogtepunt van elke week was die laaste aand se begeesterde praise and worship-sessie in Die Byekorf, waar elke span ook ’n unieke koek ontvang het ter viering van Merensky se 90ste bestaansjaar.
Samewerking met Stanford Lake College
Merensky het die hoof en personeel van SLC bedank vir hul kameraderie en samewerking wat gehelp het om die weke ’n groot sukses te maak.
Ligawedstryde begin vir A-spanne
Alhoewel Merensky se B-hokkiespanne reeds volstoom besig is met ligawedstryde, begin die A-spanne eerskomende naweek, 25 April, met hul ligawedstryde teen Hoërskool Nylstroom op die Blou Astro.




