Local news

VF Plus, Plaaswag en Kampersrus pak waterkrisis saam aan

VF Plus, Plaaswag en die Kampersrus-gemeenskap werk saam om ’n jarelange waterprobleem met ’n nuwe pyplyn suksesvol op te los.

HOEDSPRUIT – Die VF Plus en die Hoedspruit Plaaswag het onlangs die jarelange probleme wat met die Kamperus-watersuiweringswerke ervaar word, saam met die gemeenskap getakel.

Dié watersuiweringswerke is vir jare nie deur die Mopani Distrik Munisipaliteit voltooi nie. In 2025 is die aanleg wel in werking gestel, maar na net ‘n paar weke het die suiweringswerke weer ophou funksioneer, aldus VF Plus-raadslid in die Maruleng Plaaslike Munisipaliteit, Pieter Gerber.

Gemeenskap neem inisiatief

“Die waterreservoir wat gebou is vir die suiweringswerke kan nie gebruik word nie omrede dit lek. Daar is toe aan Mopani Distrik Munisipaliteit voorgestel om ‘n pyplyn direk vanaf die suiweringswerke aan te lê,” sê hy.

Volgens hom het die distriksmunisipaliteit nie daarvoor begroot nie. Gerber en gemeenskaplede het dit toe op hulle self geneem om die geld in te samel vir die pyplyn.

Gerber sê nadat ‘n bedrag ingesamel is, het Hoedspruit Plaaswag die uitstaande bedrag bygedra.

“Die materiaal is aangeskaf en die gemeenskap het toe ‘n kontrakteur gehuur om die sloot vir die pyplyn te grawe.”

Inwoners, VF Plus en Hoedspruit Plaaswag werk saam om ’n pyplyn te lê en Kampersrus se waterprobleem aan te spreek.

Pyplyn bring oplossing

Op Vrydag 24 April het Gerber, gemeenskapslede, die VF Plus en ‘n span van die distriksmunisipaliteit die pyplyn gelê en aan die suiweringswerke gekoppel.

Samewerking maak verskil

Gerber sê dit is die perfekte voorbeeld van wat moontlik is as gemeenskappe hande vat en saamstaan om probleme op te los.

“Na vier jaar se konstante gesukkel met waterlewering staan die gemeenskap van Kampersrus het almal bygedra om die probleem op te los,” sê hy.

Gerber het almal bedank wat tot die projek bygedra het tot nou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button