Larrie-ystervrou voltooi Ironman
Een van Laerskool Tzaneen se mees toegewyde onderwysers, Andri Luus, het verlede naweek haar derde Ironman 70.3-kompetisie in Durban voltooi.
TZANEEN – Een van Laerskool Tzaneen se mees toegewyde onderwysers, Andri Luus, het verlede naweek haar derde Ironman 70.3-kompetisie in Durban voltooi.
Die uitdagende driekamp is op Saterdag 1 Junie beslis en het bestaan uit ’n 1.9km-swem in die see, ’n 90km-fietsrit, en ’n 21km-hardloop.
Met meer as 2 000 atlete wat deelgeneem het, was dit ’n ware toets van uithouvermoë.
Luus het die wedloop in ’n merkwaardige 06:40:00 voltooi.

Sy sê al het sy gehoop het om onder 06:30:00 te eindig, bly sy positief en trots op haar prestasie.
“Ek is nie so trots op my tyd nie, ek het regtig gehoop om onder 06:30 in te kom,” vertel sy met ‘n glimlag. “Maar ek het klaar gemaak, en dit is wat regtig saak maak.”
Hoewel sy nie haar presiese plek in haar ouderdomsgroep kon bepaal nie, bly haar deelname ’n bron van trots vir haar skool en gemeenskap. Laerskool Tzaneen sê haar toewyding, beide in die klaskamer en op die sportveld, dien as inspirasie vir haar leerders en kollegas.
“Om ’n Ironman 70.3 een keer te voltooi is ’n prestasie, om dit drie keer te doen terwyl jy voltyds skoolhou, is werklik merkwaardig,” sê ’n ouer van die skool.




