Eendeweer stuit Plasies nie
Al die wintersportspanne van Hoërskool Merensky het Saterdag 17 Maart na Gauteng gereis om by Southdowns College in Centurion aan rugby-, hokkie- en netbalwedstryde deel te neem.
Eendeweer het die Plasies ingewag, maar nie gestuit nie.
Op die rugbyveld het die 5 blou spanne ‘n totaal van 254 punte aangeteken teenoor die 5 van hul opponente. Die 1ste-span wen oortuigend 36-0. Delux Jooste (heelagter) sorg vir 16 punte met 2 drieë en 3 doelskoppe.
Ryno van Burick (agtsteman en kaptein) het ook 2 maal onder die pale gaan kuier, terwyl Martin Theunissen (binnesenter) ook een drie druk.
Die 2des se telling was 31-5, terwyl die o.16-, o.15- en o.14-spanne onderskeidelik 58, 66 en 63 punte op die telbord gesit het.
Op die hokkieveld het die seuns ook goed gevaar. Die 1ste-span wen gemaklik 3-0 met briljante spel deur Luann Botha, wat 2 doele aangeteken het en Talon Griffiths 1 doel.
Die o.16’s se Hardus van Staden en Ben Freitas teken elkeen ‘n doel aan en sorg vir ‘n 2-1 wen. Die o.14-span verloor 0-2. Dogtershokkie het ook koning(in) gekraai.
Na die 1ste-span se gelykoptelling van 1-1 (Tharine Lombard het die doel aangeteken), het die 2des 3-0 gewen met twee doele aangeteken deur Shea Adendorff en een deur Joné du Toit.
Die o.16’s verdubbel dié telling deur met 6-0 van die baan te stap, met doele aangeteken deur Leoné Slabbert, Dominique Blandin de Chalain, Zonica van Niekerk, Michelle Brummer en Bianca Prinsloo.
Die o.15-dogters maak seker dat hulle die dag nog lank sal onthou met ‘n prag 7-0 oorwinning.
Vyf van die doele is deur Karlien Lombard aangeteken, een deur Nikita Pohl en een deur Zuleika Ferns.
Die o.14’s maak ook skoonskip deur met 4-0 te wen; Chantelle Meyer, Nicole van der Walt, Amerie Kotze en Nikita Fouche teken doele aan.
Op die netbalbaan wen die Plasie-meisies ook die dag met 6 oorwinnings en ‘n totaal van 132 doele teenoor 56: o.14B (18-3), o.14C (27-1), o.15B (15-4), o.16A (18-3), o.16B (12-2) en o.18A (15-9). Die o.15C-span moet tevrede wees met ‘n 4-4 gelykopuitslag.



