‘Christus gebore vir ons’
Dr Jan Truter van die Nederduitsch Hervormde Kerk, Gemeente Letsitele wens almal 'n geseënde Kersfees en het die volgende vir die gemeenskap van Tzaneen omgewing geskryf:
Die Engel het die skaapwagters in Lukas 2 vers 10 met hierdie woorde ontmoet: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.
Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!”
Dis reg …. Christus is vir ons gebore!
Vir geen oomblik moet ons dink dat dit God se plig was om na hierdie aarde toe te kom nie, maar tog het Hy, omdat Hy ons so geweldig lief het.
Dit is die wonder van die Kersboodskap, Jesus Christus het nie net gekom om die mens van sy sonde te verlos nie, Hy het ook na ons wêreld gekom om ons te leer leef, Hy het gekom om deel te hê aan ons lewens hier op aarde, of nog beter, Hy het vir ons kom wys dat Hy begrip vir ons het.
Hy verstaan ons hartseer, Hy verstaan ons pyn en Hy verstaan ons eensaamheid.
Die wêreld het ‘n magtige aardse leier verwag wat onregverdige regerings omverwerp, toe kry hulle ‘n
Leier wat ons leer om in vrede te leef ten spyte van sulke regerings.
Die wêreld het ‘n heerser verwag wat sondaars met swaard en spies uitroei, toe kry hulle ‘n Heerser wat saam met sondaars eet en selfs hulle voete was.
Die wêreld het ‘n koning verwag wat in pragpaleise woon, toe kry hulle ‘n Koning wat in die stofstrate van die wêreld loop, na siekes afbuig, trane van melaatses afvee en straatkinders omhels.
Hy is die God wat saam met ons langs die graf huil (Johannes 11:35) en vir ons kan bid as die storms van ons lewe op sy ergste is (Markus 6:46).
Daarom is Christus juis as ‘n Kindjie in ‘n krip gebore, sodat Hy een kon wees met elke stadium van ons lewens – in jeug en ouderdom, in vreugde en smart.
Mag dit die wonderboodskap vir ons in hierdie Kerstyd en Nuwejaar wees – daar is Iemand wat vir ons omgee en wat verstaan, Hy het dit vir ons kom wys!
Mag ons in hierdie tyd so vir Hom leef, dat ons daardeur kan wys, dat ons sy groot opoffering vir ons verstaan!



