Tydens Operasie Protea was Leon Marais die vegspan bevelvoerder van Delta kompanie.
Die selfde Leon Marais wat later ’n groot rol gespeel het tydens Operasie Modulêr as bevelvoerder van Veggroep Charlie.

’n Boek, “Tenk”, deur Pieter Stoffberg is later oor Modulêr gepubliseer.
Daarin word geskryf “op 13 Oktober 1987 mobiliseer 4 SAI op Middelburg. Die vertrekpunt is tussen 4 SAI se paradegrond en die ammunisiedepot. Al die vegvoertuie wat saamgaan kom daar in gelid bymekaar.”

Die selfde Leon Marais met wie ek gereeld onderhoude gevoer en ’n militêre bal by 4SAI bygewoon het.
Nou gaan Operasie Protea ook in ’n boek herleef.

Luitenant Harry van Staden sê die boek se buiteblad is reeds ontwerp en daar word beplan om dit in Oktober vry te stel.
“Delta Kompanie 1 SAI is in 1981 geoormerk om aan Operasie Protea deel te neem. Ek was toe nog ’n diensplig instrukteur, en was die bevelvoerder van Peleton 1, waarvan Floris Cornelius Smit ’n lid was. Bravo seksie.
“Ons het in Julie aan die einde van ons diensplig uitgeklaar, en hulle is met ’n nuwe leiergroep grens toe. Hulle was deel van ’n vegspan onder kmdt. Dippenaar se Veggroep 20. Smittie en Stapies, skutter Stapelberg, is by Xangongo gedood.’

Hy sê Delta kompanie was ’n baie hegte groep, en is vandag nog boesemvriende en bloedbroers. Een van die lede het ’n 4×4 baan in Kameeldrift (John Rock 4×4) wat herdoop is tot Delta huis. Elke jaar in Oktober kom hulle daar bymekaar.

“Hiertydens hou ons op die Saterdag ’n kort gedenkdiens, waarna ons ’n krans lê. Ons het ’n gedenksteen opgerig by Delta Huis. Met die veertigste herdenking van Protea in 2021 het ons probeer om naasbestaandes op te spoor van al vier lede wat ons verloor het, maar kon net daarin slaag om Stapelberg se broer en Myburgh se suster op te spoor.”

- Luitenant Van Staden was in diensplig ’n tweede luitenant. Na diensplig is hy by Johannesburg Regiment ingedeel vir sy kampe. Daar het hy aangesluit as vrywiliger, en was van November 1989 tot Julie 2000 bevelvoerder van Johannesburg Regiment met rang van kommandant/lt. kolonel. Daarna ere-kolonel by Alberton Kommando tot die kommando’s toegemaak het. Hy is tans betrokke by Johannesburg Regiment Assosiasie, en die Regiments Room Association wat ’n uitstalling by die Ditsong Oorlogmuseum bedryf.
- Voorsitter van die Middelburg Erfenisvereniging, Rudi van Wyk, sê hulle beplan om elke jaar op 24 Augustus ’n kranslegging by skutter Floris Cornelius Smit se graf te hou. Dit is die dag waarop hy gesterf het. “Hy verdien om onthou te word. Sy nagedagtenis moet geëer word.”
