News

KYK: Puma se reis deur tragedie en hoop

’n Leesprojek gebore uit tragedie.

’n HTS Witbank-leerling, Pieter Swanepoel, was in 2003 uit sy vel van trots toe hy gevra is om die Pumas-rugbyspan se gelukbringer te wees.

Tydens ’n aandwedstryd op die Johan van Riebeeck-stadion in Witbank (eMalahleni) het hy om die veld gestap en toeskouers aangemoedig om die Pumas van Derick Grobbelaar te ondersteun.
Op die pawiljoen het ’n boer van Groblersdal, Kobus Badenhorst, en ’n paar onderwysers gesit. Toe hulle Badenhorst aanmoedig om die gelukbringer te gaan duik, het hy oor die reling gespring en Pieter met ’n plettervat platgeloop.

Hulle het nooit besef dat ’n jong seun binne-in die Pumapak was nie.
Pieter het ’n ernstige rugbesering opgedoen.

Gelukbringer onttrek

Badenhorst moes later R15 000 opdok nadat Pieter se pa, Ockert, ’n eis teen hom ingestel het.
Die destydse uitvoerende hoof van die Mpumalanga-rugbyunie, Chris Buitendach, het besluit om die gelukbringer aan diens te onttrek.

’n Paar maande later het die Lydenburg Rugbyklub gevra of Puma nie weer kan herleef nie, met die klub se 100-jarige feesvieringe.
Puma is afgestof en nog ’n HTS Witbank-leerling, Jean-Di Oosthuizen (13), was die gelukbringer in Lydenburg.
Hy moes die hele dag in die pak rondstap, met sy pa, John, as sy “lyfwag”.

Net ’n oomblik ontspan

Om 17:20 is Puma gevra om ’n laaste keer om die veld te loop.
Jean-Di was skrikkerig, maar het ingestem op voorwaarde dat sy pa saam met hom stap.
“Terwyl ons geloop het, het iemand my seun gevra of hulle ’n foto kan neem. Ek het vir ’n oomblik ontspan en omgedraai om na ’n wedstryd te kyk,” het mnr. Oosthuizen later vertel.

Toe hy terugdraai, het hy gesien hoe iemand sy seun duik.
“Hy is so hard getackle dat hy twee meter die veld in geval het. Die groot Pumakop is 15 m verder opgetel.”
Jean-Di is na die Lydenburg-hospitaal gehaas, waar X-strale gewys het dat twee van sy rugwerwels verskuif het.
Hy was vir twee weke verlam.

Weens wangedrag aangekla

’n Belowende Leeus o. 21-speler, Muller de Jager, is later deur sy rugbyunie weens wangedrag aangekla. Hy het egter in ’n motorongeluk gesterf, twee dae voor sy verhoor, waarna die Oosthuizen-gesin besluit het om die saak te laat vaar.

Jean-Di het later volkome van sy beserings herstel.
Die gelukbringer is finaal aan diens onttrek en mnr. Buitendach het die Pumapak aan die Middelburg Observer geskenk vir ’n leesprojek.

Tshwenyane Gekombineerde Skool se leerlinge saam met Godfrey Masilela. FOTO: Middelburg Observer

Maar dit was nie die einde van die tragedies nie.
’n Progerialyer, Godfrey Masilela, was een van die eerste kinders wat deel van die leesprojek was.
Hy het die Middelburg Observerin Oktober 2005 saam met Tshwenyane Gekombineerde Skool besoek.
Klein Godfrey het so vies geraak vir Puma wat nie kan lees nie, dat hy opgespring en hom met die vuiste toegetakel het.

Liggaam gevind

Godfrey was as baba so klein dat sy oom, Joe Masilela, hom in sy baadjie se sak rondgedra het.
Op Woensdagoggend 29 Oktober 2014, is sy liggaam op die Hendrina-afrit gevind.
“Ek kon uit sy gesig sien dat hy sy moordenaars om genade gesmeek het,” het sy ma, Selina Masilela, later gesê.

Oudjoernalis Lynn Wilton saam met Godfrey Masilela. FOTO: Middelburg Observer

Godfrey het ’n groen en wit tou om sy nek gehad. Hy het krapmerke aan sy bors, kop, gesig en lyf gehad, asook gebreekte ribbes.
“Hy is wreed vermoor,” het mev. Masilela gesê.
Die familie glo hy is vermoor omdat hy iets gesien het wat hy nie moes nie, of omdat hy met die verkeerde groep mense bevriend geraak het.
Sy moordenaars is nooit aangekeer nie.

Puma herleef

Uit al hierdie tragedies herleef Puma weer Saterdag wanneer hy om 11:30 by Laerskool CR Swart se veldfees by Pienaardam optree.

Die vertoning is deel van die fees en daar moet net toegang van R100 vir kinders en pensionarisse en R150 vir volwassenes betaal word om al die dag se aksie te beleef.

@middelburgobserver

Observer se Puma leesprojek het al honderde Middelburg kinders na die koerant laat gryp, om nie soos ou dom Puma uit te draai en sy skoene te stryk as sy ma sê hy moet sy skoolklere regkry nie. Die leesprojek het ‘n diepe geskiedenis. Om meer te wete te kom van hoe die projek ontstaan het, gaan lees die berig op Middelburg Observer se webtuiste. #Mpumalanga #Middelburg #lees #koerante

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button