VIDEO: Boewe plunder, verwoes skool
Laerskool Staatspresident C.R. Swart is die jongste slagoffer in 'n vlaag inbrake by skole en besighede die afgelope paar maande.
Geskokte personeellede is deur ‘n toneel van verwoesting begroet toe hulle Maandagoggend by die kantoor opgedaag het.
Veiligheidshekke is oopgebreek, en die kenmerkende reuk van gebrande yster, wat deur hoeksnyers agtergelaat word, het in die lug gehang. Al die veiligheidskameras is weggedraai sodat dit teen die muur of dak vaskyk.
Die hoofkluis is met hoeksnyers oopgebreek, daarna ‘n kleiner kluis wat in die hoofkluis staan, asook geldbokse wat in die kleiner kluis gebêre word.
Al die administratiewe rekenaarsisteme is gesteel asook die hoofraamrekenaar waarop alle data gestoor word.
Inbrekers het verskeie yskaste in die naskoolsentrum oopgebreek en selfs vir hulle wors gaargemaak, wat hulle in die hoof se kantoor by sy tafel gaan eet het.
Sien Video hier:
Muurlyste is van die mure af geruk, skynbaar vir geen rede nie. Oral is kaste oopgebreek en dokumente uitgeruk en op die vloere gestrooi. Self een van die skool se mediese tassies is soek. ‘n Ander een het by die kluis oopgestaan en Reparil Gel is op die vloer gesmeer.
Mnr. Pieter Fouché (skoolhoof) sê dat die verlies aan data die grootste skade is. “Ons het doen backups van al ons data, en die server is in die kluis toegesluit omdat ons gedink het dit is die veiligste plek. Toe vat hulle dit ook. Wat meer kan mens dan doen?”
Louise van Niekerk sê dat sy en ‘n kollega Vrydagmiddag teruggekom het kantoor toe om weer seker te maak dat alles mooi gesluit is.
Daar word beraam dat die skade nie minder as R800 000 gaan wees nie. Die assessors en die polisie se forensiese afdeling was nog oppad na die toneel toe die Middelburg Observer daar was.
• C.R. Swart is die vyfde skool waar daar ingebreek is. Laerskool Dennesig, Laerskool Kanonkop, Laerskool Middelburg en Hoërskool Kanonkop was in die verlede al slagoffers.
