Crime

Video: Tralies red bejaardes

'n Bejaarde egpaar is Woensdag 22 Oktober in hul huis verras deur drie inbrekers wat, selfs nadat hulle gekonfronteer is, bloot hul plundertog voortgesit het.

Dit het me. Elsie Badenhorst tyd gegee om haar seun, Gert Lotter, te bel, wat dadelik na die huis gejaag het.

Mid-Alarms en radiogroeplede het binne minute op die noodroep reageer en twee van die drie mans vasgetrek.

Hulle is teruggeneem na die huis tot die polisie minute later opgedaag het.

Me. Elsie Badenhorst kyk na die goedere wat deur Clement Mnisi en Kogatso Msibi tydens die huisroof gebuit is.
Me. Elsie Badenhorst kyk na die goedere wat deur Clement Mnisi en Kogatso Msibi tydens die huisroof gebuit is.

Die mans het toegang tot die huis verkry deur die veiligheidshek oop te breek en ‘n paneel uit die deur te breek.

Die geraas het mnr. Jak Badenhorst, voormalige Volkskas bankbestuurder, en sy vrou, Elsie, uit hul middagslapie geruk.

Twee hekke, een voor hul slaapkamerdeur en een verder af in die gang, het die inbrekers gestuit.

Me. Badenhorst het een van die mans gevra wat hulle soek, waarop hy haar geantwoord het “hulle soek werk want hulle is honger”.

Nadat hulle die telefoondrade geknip het, het die mans in die studeerkamer se dak geklim, vanwaar hulle na die egpaar se kamer wou beweeg.

Mnr. Lotter het saam met ‘n kollega na die huis gejaag, waar hulle ‘n vrou gestop en gevra het om die radiogroep te bel.

Die onbekende vrou het die radiogroep, Mid-Alarms en die polisie ontbied terwyl mnr. Lotter en sy kollega buite die erf gewag het vir versterkings.

Op dié stadium het die mans skielik by hulle oor die muur gespring en laat spaander.

Mnr. Lotter kon een van hulle vastrek, terwyl twee reaksiemanne van Mid-Alarms ‘n tweede een ingehardloop het.

‘n Derde man het oor die palissade heinings van ‘n nabygeleë substasie gespring en geslaag om te ontsnap.

Die twee jong boewe is teruggevat na die huis.

Twee sakke, een gevul met vleis, en ‘n ander vol koeldrank het neffens ‘n muur in die agterplaas gelê.

Die egpaar se platskerm TV is in sy oorspronklike boks, toegedraai met ‘n kombers gevind.

Mnr. Gert Lotter by die TV wat drie inbrekers tydens 'n huisbraak in kombers toegedraai het.
Mnr. Gert Lotter by die TV wat drie inbrekers tydens ‘n huisbraak in kombers toegedraai het.

Die boewe is beveel om die gesteelde kruideniersware self terug te dra na die huis, waar ‘n erg geskokte me. Badenhorst gesê het, die twee polisielede kan dit maar vat, want sy wil dit nie hê nie.

Die egpaar se seun, Kobus, het vanuit Pretoria gejaag, om die nag by sy ouers deur te bring, omdat die deure eers Donderdag herstel is.

Groot lof is die twee uniformdraers toegeswaai na die arrestasies.

• Clement Mnisi (22) en Kogatso Msibi (21), beide van Mhluzi, het Donderdag in die hof verskyn vir huisroof.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button