News

Die blondekopbokser wat vir 24 jaar in ’n koma was

Middelburg onthou die suster wat hom met soveel liefde en deernis versorg het.

Op 31 Oktober 2010, in die ouderdom van 43 jaar, is Eppie Pohl oorlede, meer as 24 jaar nadat hy in 1986 ineengestort het na ’n boksgeveg.

Hy is die grootste deel van sy lewe met deernis in die SAVF Ouetehuis op Middelburg deur suster Miempie Meyer versorg.

Eppie was ’n talentvolle amateurbokser van Groblersdal. Hy het Noord-Transvaalkleure in boks verwerf en terwyl hy diensplig gedoen het, vir die Suid-Afrikaanse Weermag geboks.

Tydens die Suid-Afrikaanse Weermagbokskampioenskap in Pretoria in 1986, toe hy 18 jaar oud was, het hy teen die harde slaner, Gary Ballard, geboks.

Suster Miempie Meyer saam met Eppie Pohl. FOTO: Daleen Naude.

Ballard het die geveg op punte gewen.

Na die geveg het Eppie na sy hoek teruggelooop en in die krythoek inmekaargesak.

Hy is na ’n militêre hospitaal geneem en het in ’n koma verval, waaruit hy nooit weer sou kom nie.

Sy ma, Petra, het later vertel toe Eppie op ’n draagbaar by die ongevalle-afdeling ingestoot is, het hy sy oë vir die laaste keer oopgemaak.

Ballard het ’n beroepsbokser geword en hom in Amerika gaan vestig.

Petra en haar man, Lukas, se huwelik het op die rotse geloop en sy het in die Vergeet-My-Nie-woonstelle vir enkellopendes op Middelburg kom bly om naby haar seun te wees.

Elke jaar wanneer hy verjaar het, het Eppie ’n koek gekry en die Middelburg Observer was daar om die spesiale oomblik op film vas te vang.

Brian Baronet saam met Eppie Pohl. Albei boksers is oorlede na ’n geveg. FOTO: African Ring Facebook.

Bekende boksers het Eppie ook gereeld besoek.

Sy lief en lief het later deel van Middelburg se lief en leed geword.

Petra het geglo Eppie kan haar hoor wanneer sy met hom praat omdat sy oë soms geflikker het.

Suster Miempie het ook met Eppie gesels asof hy haar kan hoor, hom altyd gemaklik gemaak en gesorg dat hy net die beste versorging kry. Vandag onthou die dorp die blondekopseun wat vir 24 jaar in ’n wêreld van stilte geleef het, maar hulle onthou veral die suster wat vir Eppie soos haar eie seun versorg het.

African Ring Boxing het ’n foto op sy Facebookblad waar ’n jong Eppie saam met die junior weltergewig, Brian Baronet, afgeneem is.

Baronet is in 1988 dood na ’n geveg in Durban teen Kenny Vice.

Hy is in die laaste rondte deur Vice uitgeslaan en was vir drie dae in ’n koma voordat hy gesterf het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button