Crime

Almal soek na Alfie

Alfie Kriel, Alfred Kruger of te wel Roelf Kock, het talle Middelburg inwoners warm onder die kraag nadat hy hulle glo uit derduisende rande verkul het.

‘n Soektog na hom het ‘n hele nes van bedrog ontbloot wat van Middelburg na Durban strek.

Twee klaers, wat Donderdagoggend ‘n saak van diefstal en bedrog by die Middelburg polisie gaan open het, het vertel hoe die vriendelike en skynbaar doodnormale man hulle op verskeie maniere verkul het.

‘n Vrou, wat versoek het om anoniem te bly om haar besigheid te beskerm, het vertel hoe Alfie, soos wat hy homself voorgestel het, by haar salon kom hare sny het.

Hy het haar genooi om te kom uitstal by sy weeklikse vlooimark by die PPK Lofdal kerk. Sy moes R400 per maand betaal wat sy toe ook gedoen het. Sy het net eenmaal gegaan en besluit dat dit nie die moeite werd was nie.

Met navraag het pastoor Callie Joubert, van die PPK Lofdal, gesê dat hy Alfie as Alfred Kruger ken. Hy het die kerk genader en gevra of hy die gronde op Saterdae kan huur om ‘n vlooimark te begin, omdat hy werkloos is.

Die kerkraad het ingestem en daar is ‘n kontrak opgestel dat Alfie die grond teen R750 per dag sou huur. Hy het, volgens pastoor Joubert, twee maal probeer om ‘n vlooimark te hou, maar dit was elke keer ‘n flop.

Dit is toe dat Alfie met die storie by die salon kom dat hy ‘n kontak het vir goedkoop televisies. Die televisiestelle was glo demonstrasie modelle by Game en daarom so goedkoop.

Met mooi praatjies het hy drie vrouens by die salon oortuig om R4 000 elk aan hom oor te betaal. Daarna was daar allerhande stories oor hoekom die televisies nog nie afgelewer is nie.

Die tweede slagoffer, Meisiekind van Niekerk, sê dat sy vir Alfie voor Laerskool CR Swart ontmoet het, waar hulle elke middag gewag het om kinders op te laai. Hy het met haar begin geselsies aanknoop en haar op ‘n latere stadium genooi om na sy weeklikse veilings te kom.

Mev. Van Niekerk is ook ‘n televisiestel aangebied. Sy wou een vir haar man vir Kersfees koop maar het eers vir ‘n foto gevra. Nadat sy een gekry het, het sy R5 350 oorbetaal in sy rekenining.

Beide vrouens het hul Donderdagoggend tot die polisie gewend nadat hulle agtergekom het dat hul geld skoonveld is en dat Alfie se foon af is. Toe hulle by sy huis gaan aanklop het sy vriendin, Andriëtte van der Walt, begin huil nadat sy glo ‘n briefie gekry het waarin Alfie sê dat hy weg is en dat sy dinge niks met haar te doen het nie.

“Sy het vreeslik gehuil,” vertel mev. Van Niekerk.

Haar broer, Henrico van der Walt, het glo aan hulle vertel dat hy hom by die N4 snelweg gaan aflaai het en dat Alfie gesê het hy gaan Durban toe.

Maar Durban is skynbaar ook te warm vir Alfie. Clarissa de Meyer het aan die Middelburg Observer vertel dat hy hul restaurant in Durban bestuur het. Hulle was amper onderdeur toe hy met derduisende rand daar weg is. Hulle het ‘n kriminele klag teen hom gaan lê by die Brighton Beach polisiestasie in Durban.

Teen druktyd, was die polisie warm op Alfie se spoor, nadat daar inligting ontvang is dat hy Woensdagaand wel in Middelburg was.

Mnr. Kruger kon nie vir kommentaar genader word nie, omdat sy foon sedert Woensdagmiddag af is.

• Me. Van der Walt het gesê dat sy nie weet waar hy is nie en dat hy haar “net so met alles gelos het.” Sy wou nie verder met die joernalis praat nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button