Quintin se dood bring herinneringe van Krugerdam se danse
Na al die jare het Hanna nie die man met die rose vergeet nie
Die dood kan ook vir nostalgie sorg.
Dit het nou weer gebeur met die afsterwe van Quintin Bernardo (43).
Quintin sou as armlastige begrawe word as dit nie vir Hanna Deysel was nie.
Hanna het nooit “die man met die rose” vergeet nie, al het die jare met ’n snelle pas aangestap.
Die “Roseman” was Quintin se pa, Clive, wat elke naweek die dansvloer in die Buffalo Inn by Krugerdam aan die brand gedans het.

Soos Quintin was hy vreeslik joviaal en het Vrydagaande sonder uitsondering met ’n bos rose by die danse opgedaag.
“Hy het dan vir elke vrou ’n roos gegee.”
Clive, wat by die Hendrina-kragsentrale gewerk het, was veral bekend vir die Strausswals.
Sy vrou is oorlede na ’n motorongeluk op die ou Witbankpad toe Quintin nog baie jonk was. Die danse by Krugerdam was gewild met Manuel Reis, wat vir die dorp voorry gespeel het, wat saam met Hanna gesorg het dat almal gelukkig is.

Nadat die rondawels by Krugerdam afgebreek is en die grond verkoop is om ’n sakesentrum op te rig, was dit nie net die einde van die danse nie, maar ’n oord waar daar naweke geswem, gebraai en gekuier is.
Die Buffalo Inn-dansers van Krugerdam het steeds ’n noue band en is deel van ’n Facebookgroep.
Dit was Hanna wat ’n hartroerende briefie aan die Middelburg Observer geskryf het om te vra dat Quintin met waardigheid begrawe word.
Hanna se wens is bewaarheid met Roseleigh Begrafnisdienste wat die begrafnis more (22 Oktober) behartig.
Lede van die Serving Disciples, waar Quintin Dinsdae aangeklop het vir iets om te eet en geestelike inspirasie, gaan van die draers wees.

Die afskeidsdiens word om 10:00 in die Rondebosch-begraafplaas gehou.
- Quintin is op 6 Oktober dood in ’n kamer gekry waar ’n weldoener hom laat bly het. Die oorsaak van sy dood word aangedui as “natuurlike oorsake”.