Mduduzi lewenslank tronk toe
Na bykans ses jaar van wroeging dat Johan Venter se moordenaars aan die pen moes ry, het sy familie van verligting in trane uitgebars toe Mduduzi Nkosi Woensdag lewenslank tronk toe gestuur is.
Regter Justice Moshidi het Nkosi 25 jaar effektief tronk toe gestuur nadat hy hom vroeër hierdie week skuldig bevind het op al die klagtes.
Mnr. Johan Venter is bykans ses jaar gelede, op 22 Januarie 2010 op kort afstand in sy slaapkamer doodgeskiet. Sy vrou, Rentia is ernstig gewond.
Regter Moshidi het gesê dat dit vir hom moeilik is om die versagtende omstandighede wat aan hom voorgehou is in ag te neem. Die verdediging het gemeld dat Nkosi van ‘n arm agtergrond kom en dat sy tyd in die tronk tydens vonnisoplegging in ag geneem moet word.
“Baie mense kom van ‘n arm agtergrond, maar hulle kies om hulle nie tot misdaad te wend nie. En ‘n mens kan nie sy tyd in die tronk in ag neem nie, omdat hy elke keer ontsnap het! As ek na al die omstandighede van die saak kyk, is daar nie veel wat in die guns van die beskuldigde gesê kan word nie.”
Die vonnis is as volg uiteen gesit:
• Op die klagte van huisbraak met die opset om te steel – agt jaar tronkstraf.
• Moord – lewenslank.
• Poging tot moord – agt jaar.
• Onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie – vyf jaar.
Alles sal samelopend uitgedien word, wat beteken dat Nkosi 25 jaar van sy vonnis moet uitdien, alvorens hy vir parool kan aansoek doen.
Kort nadat Nkosi gevonnis is, het me. Venter gesê dat “as Nkosi geglo het in iemand soos God, sou hy nie dié dade gepleeg het nie. Alle eer aan die Heer. Ek het my antwoord gekry in Romeine 12:19: ‘Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: Dit is mý reg om te straf, Ek sal vergeld, sê die Here.”
Me. Venter het elke persoon wat betrokke was by die saak, van harte bedank.
Die gesin se prokureur, mnr. Danie Schutte het gesê: “dat mense na die hele prentjie moet kyk. Nou lê die gras mooi, maar niemand weet van die klippe en grond onder die gras, die harde werk wat in hierdie saak ingegaan het nie. Die rol van die hele span, van die polisie regdeur tot by die aanklaers, is net weer ‘n bewys van toewyding en samewerking tussen al die partye.”
• Daar was destyds drie beskuldigdes in die Venter moordsaak, Nkosi, Given Chisiko en Bheki Mthetwa.
Chisiko het skuldig gepleit en is 30 jaar tronk toe gestuur. Mthetwa is aan natuurlike oorsake in aanhouding dood.
• Adv. Eric van der Merwe het aangekla vir die staat.
• Adv. Leona Frazer het opgetree vir die verdediging.
• Die ondersoekbeampte wat Nkosi kort na die moord destyds arresteer het, was luit. Annalien Breedt. Sy is nou ‘n kaptein by die Valke se hoofkantoor in Pretoria. Sy het Woensdag die hofverrigtinge bygewoon.
• Lees elders Nkosi se lang lys van vorige veroordelings en die klagtes waarvoor hy aanstaande jaar ook tereg moet staan.

