Seuntjie gevind
Die sesjarige Okkert wat Vrydag as vermis aangegee is deur sy ma, is ongeskonde in eMalahleni gevind.

Verskeie boodskappe is op sosiale media gestuur dat Johan Smith sy kind ontvoer het vanaf sy vervreemde vrou, Vicky (Victoria) se huis in Pretoria.
Sy het pas aan was.mobserver.co.za vertel dat sy en mnr. Smith besig is om te skei en dat hulle n mondelingse ooreenkoms het dat hy Okkert elke tweede naweek kry.
Me. Smith vertel dat hy Vrydagmiddag die kind gevat en met tollende bande weggejaag het. Sy het hom gebel en hom gemaan om die kind terug te bring as hy so wil ry. Hy het beloof om die kind dadelik terug te bring, maar het nooit opgedaag nie.
Saterdagoggend het sy die skok van haar lewe gekry toe sy ‘n klomp boodskappe van hom kry.
“Hy het gesê ek sal my kind in die hemel sien en dat ek hom nooit weer sal sien nie! Verder dat ek hulle lyke in water sal kry!”
Me. Smith het dadelik die polisie gekontak. Sy het ook die Gemeenskapspolisiëring in Middelburg gekontak, aangesien mnr. Smith aan haar genoem het dat hy sy dogter by sy niggie in Middelburg gaan kom aflaai.
Dit was egter nie die geval nie en was die kind nie daar nie.
Me. Smith is Sondagoggend deur die polisie in kennis gestel dat hulle pa en seun in eMalahleni opgespoor het. Haar kind is in veilige bewaring geplaas en sy is laat weet dat mnr. Smith onder huisarres is. Me. Smith het geïmpliseer dat mnr. Smith onstabiel is.
Sy het genoem dat hy sowat ‘n maand terug probeer selfmoord pleeg het deur homself te probeer vergas. Volgens me. Smith het hy ‘n paar jaar gelede ook soortgelyk opgetree toe sy eksvrou hom gelos het.
“Hy het vir homself en sy ander seun probeer doodmaak deur pille te drink.” Die twee het dit oorleef.
“Hy vertel aan die polisie dat ek onstabiel is, maar kyk wat doen hy! Ek is dadelik polisie toe nadat ek sy dreigboodskappe gekry het!”
Me. Smith het almal bedank wat help soek het na haar kind.
