Alfie agter tralies
Alfred Kriel sit agter tralies. Te danke aan sosiale media, het die wêreld uiteindelik vir Alfie, soos wat hy aan meeste van sy beweerde slagoffers bekend staan, ook te klein geword.
Die Middelburg Observer het verlede week berig oor Alfie Kriel wat verskeie Middelburg inwoners ingedoen het met televisiestelle.
Maar woedende slagoffers, wat reuse platskerm televisiestelle kwyt is, was nie die enigste vyande wat Alfie gemaak het nie. Hy het ook by plaaslike kroeg, Tracers, brûe verbrand.
Me. Isabelle Rabie sê dat Alfie van middel November begin het om haar kombuis by haar te huur. Hy sou ‘n sekere bedrag vir die kombuis, asook ‘n gedeelte van die water en elektrisiteit en die werkers in die kombuis betaal.
Wat hy egter volgens mev. Rabie, gedoen het, was om haar kombuis, die kos en bestanddele daarin, asook haar werkers te gebruik om vir hom ‘n inkomste te genereer, sonder dat sy ooit ‘n sent daarvan gesien het.
“Hy het my kos en my werkers gebruik. Selfs bestellings van buite gevat en my werkers moes dit gaan aflewer.”
Sy het onraad vermoed toe haar werkers kom kla het dat daar geen kos oor is in die kombuis nie. Toe sy en haar werkers vir Alfie probeer bel, het hy eers beloftes gemaak om geld oor te betaal en toe spoorloos verdwyn.
Mev. Rabie, tesame met Meisiekind van Niekerk en ‘n vrou wat versoek het om anoniem te bly, het boodskappe oor Alfie se oneerlikheid op Facebook geplaas.
Dit het gou aan die lig gekom dat Middelburg inwoners nie die eerstes is om onder Alfie deur te loop nie. Die Observer het met nog beweerde slagoffers van Alfie aan die Suidkus in kontak gekom. Die ondersoekbeampte wat Alfred Kruger se dossier in KwaZulu Natal dra het bevestig dat die bedrag ter sprake meer as R400 000 beloop.
Tydens ‘n vorige gesprek met die mede eienaar van Footloose pub het sy gesê dat Alfie hulle amper hul besigheid gekos het. Hulle het hom vertrou om die besigheid te bestuur terwyl hulle uitstedig was en het met hul terugkoms op ‘n verlate plek afgekom waarvan die elektrisiteitsrekening nie eens betaal was nie. Bedryfskapitaal wat hulle vir hom agter gelos het om rekeninge te betaal en aankope te doen, was skoonveld.
Te danke aan sosiale media, en die berig oor Alfie wat in Middelburg gesoek word, is hy Maandag, minder as 24 uur nadat die Middelburg Observer sy Vrydag, 4 Desember, voorblad op die internet verskyn het, in Vanderbijlpark gearresteer.
Dit nadat ‘n vrou by wie hy ‘n tuinwoonstel daar gehuur het, hom op die internet herken het. Sy het Maandag met die Observer in kontak gekom.
Yolande (van onbekend), het vertel dat Alfie Vrydag met ‘n taxi by haar huis opgedaag het, nadat hy gereageer het op ‘n advertensie vir blyplek oor die plaaslike radiostasie.
“Hy het niks gehad nie, ons moes alles vir hom leen. Hy het vertel dat hy van eMalahleni af kom en dat hy ‘n gekwalifiseerde sjef is.”
Ure later is Alfred Kriel, sy regte naam, kort nadat hy van die drankwinkel af teruggekom en sy eerste dop vir die dag gegooi het, gearresteer.
Hy is na die Middelburg polisiestasie gebring en het Woensdag vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn.
Toe hy die trappies van die selle na die beskuldigde bank oploop, het hy vlugtig vir sy vriendin, Hendriëtte van der Walt, geknipoog.
Terwyl hy in die beskuldigde bank, tussen ander eerste verskynings gestaan en wag het vir die regshulpraad prokureur om sy besonderhede neer te skryf, het hy weer omgeloer na die publieke bank. Alfie het saggies ‘lief jou’ gefluister vir sy vriendin, wat teen hierdie tyd gesukkel het om die trane terug te hou.
Hy het aangedui dat hy beplan om skuldig te pleit. Die saak is na ‘n distrikshof oorgeplaas vir mid-Januarie. Alfie sal Kersfees in die tronk spandeer, omdat hy in aanhouding sal bly tot dan.
Voordat hy weer met die trappies na die donker selle onder die hof stap, het hy vir ‘n laaste keer sy hand na sy vriendin uitgesteek en vir haar geknipoog.

