Berugte wagte weer in spervuur – Vrou sê is by hospitaal aangerand
Vir die soveelste keer hierdie word beweer dat die sekuriteitsbeamptes van die Middelburg Hospitaal mense aangerand het.

Me. Yolanda Eloff was geweldig emosioneel toe sy van die gebeure vertel. “My man, Baksteen, is in en uit die hospitaal omdat hy weens Evans Sindroom gereeld bloed moet kry. Ek kan nie hierdie ook nog hanteer nie!” het sy uitgeroep.
Volgens me. Eloff kon sy ook nie ’n saak by die polisie maak nie, “want hulle sê dan moet hulle ons altwee arresteer, want ek het kwansuis die ‘k-woord’ gebruik! Ek praat nie so nie! Die polisievrou het my ook alleen saam met die man wat my aangerand het in ’n kamer toegemaak!”
Sy is tot op hede nog nie terug polisie toe nie, “want Baksteen is eenvoudig net te siek.” Mnr. Eloff se een nier word Dinsdag in die Steve Biko Hospitaal verwyder.
Die probleme het Donderdag begin by die sekuriteitshek naby Dros. Sy het haar man hospitaal toe gevat vir ’n bloedoortapping en by die ongevalle afdeling het hulle vir haar gesê dat daar nie ’n groot genoeg rolstoel vir hom beskikbaar is nie.
Me. Eloff sê sy het geen probleme gehad om haar man in te vat nie. Met die uitkomslag het die probleme begin.
Sy het by die hek gestop en gewag dat iemand moet oopmaak, maar die man en vrou op die bankie het haar net geïgnoreer.
Me. Eloff het haar venster oopgedraai en, volgens haar, ordentlik gevra of hulle die hek vir haar sal oopmaak. Die man het met ’n waai van sy arm vir haar gewys hy gaan nié die hek oopmaak nie.
Sy het uit haar voertuig geklim en hom gevra waarom hy nie wil oopmaak nie, maar hy het net nukkerig in ’n ander rigting gekyk.
“Ek het vir hom vir sy naam gevra en gesê dat ek hom by sy supervisor gaan verkla omdat hy so ongeskik is. Hy het geweier om my te antwoord, waarop ek vir hom gesê het, dat ek dan maar ’n foto van hom sal moet neem om vir sy supervisor te wys.”
Dié woorde het hom soos mes laat reageer.
“Voordat ek nog behoorlik my selfoon uit my sak kon haal, het hy op my afgestorm en geskreeu: ‘jy wil seker die foto’s vir die Observer gee!”
Me. Eloff sê hy het haar teen die kar vasgegooi en haar hande vasgedruk. Sy het paniekerig vir hom gesê dat sy nié ’n foto geneem het nie, maar hy het vir die ander wag gesê om die hek toe te maak en hul bestuurder te bel.
’n Man het opgedaag en was ook uiters aggresief en het vir haar gevra of sy ’n foto geneem het. Alhoewel sy nee gesê het, het hy haar nie geglo nie en steeds geweier om die hek oop te maak.
In hierdie tyd het sy kans gekry om vriende en radiogroeplede te kontak. Met mnr. Piet Steyn se aankoms by die hek, het die man van die sekuriteitsmaatskappy hom toegesnou dat hulle nie foto’s daar mag neem nie, “want hulle is in beheer daar en hulle verbied dit.”
Mnr. Steyn het later op sy Facebookblad gesê dat hy gevra het waar dit staan dat daar nie foto’s geneem mag word nie. “As daar niks op is nie, sal ek foto’s neem!”
Hy het ’n foto van die wag, wat tot op hede nie geïdentifiseer is nie, geneem. Mnr. Steyn het op sy blad gemeld dat hyself ook amper aangerand is “deur so ’n jong arrogante mannetjie!”
Lees vorige stories hier:
Horror ordeal – They tied me to a bed
Video: Dokter by hospitaal aangerand
• Me. Eloff sê sy gaan nou eers toesien dat haar man klaar mediese behandeling in Pretoria kry voordat sy die saak verder vat.
“Selfs nadat die hospitaal beloftes gemaak het dat hulle dinge sal reg maak, gaan hulle aan om mense te terroriseer.
Dit is kommerwekkend dat sekuriteit so kan optree en kan lieg! Is hulle nie daar om mense en eiendom veilig te hou nie?
• Dr. Adele Visser (patoloog) het ook klagtes van aanranding aanhangig gemaak teen onder ’n sekuriteitswag na ’n voorval op 23 Junie vanjaar waar sy eers na bewering deur ’n suster met ’n lêer geslaan is en daarna deur ’n sekuriteitswag gewurg is.
Sy het Donderdagoggend gesê dat die polisie haar sowat ’n maand gelede gebel het en gevra het of sy nie die saak wil terugtrek nie. Sy het botweg geweier, “want ek het weereens gesê dat ek die was kan uitken. Dit is die laaste wat ek van hulle gehoor het.”
Lees ander nuus hier:
Girl (17) arrested ‘for killing boyfriend’
Man dood, ma en kind ernstig beseer na Toyota-botsing op N4
Gemeenskapsvergadering vir Kanonkop kiesers’n belangrike een
Video: Miljoene lieters water verlore met pyp wat bars
Video: Voetuig tussen trokke vasgedruk
Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!
