Boere ly duisende rande se skade
'n Sekuriteitswag is op 'n plaas vermoor, vermoedelik deur 'n sindikaat veediewe wat die omgewing teister.
Met die moord het die geveg teen veediefstal ‘n nuwe, en heelwat ernstiger wending geneem. Een waar boere in die middel vasgevang is.
Danie van Wyk, van die plaas Bankfontein in die Blinkpan distrik, sê dat hy deur sy voorman, Johan Loretz, wakker gebel is. Hy is ingelig dat een van sy sekuriteitswagte, Dawid Lalenda, in sy kamer geskiet is terwyl hy gelê en slaap het.
Mnr. Van Wyk sê dat hy hom na die toneel, wat sowat 16 km van sy huis is, gehaas het. Kort na sy aankoms was daar ‘n polisie reservis, lede van die Blinkpan polisie sowel as die plaaspatrollie op die toneel.
Hy het mnr. Lalenda (36) in sy voertuig gelaai en met hom Midmed Hospitaal toe gejaag. Met hul aankoms het ‘n dokter mnr. Lalenda dood verklaar. Hy is in die lies geskiet en het intern dood gebloei.
Mnr. Van Wyk sê dat inligting tot hul beskikking dui dat drie aanvallers toegang tot die kamer waar mnr. Lalenda asook sy vrou en twee kinders gelê en slaap het, verkry het deur die venster te breek. Hulle het ingegaan, hom geskiet en dadelik gevlug.
In die kamer langsaan het ‘n ander wag, wat op diens was in die veld, se vrou en kinds gelê en slaap.
“As hy daar was sou hulle hom ook vermoor het,” sê mnr. Van Wyk.
Die polisie se forensiese eenheid en honde eenheid het die toneel gefynkam vir leidrade. Daar is sowat drie ure na die voorval ‘n moontlike verdagte gearresteer.
• Mnr. Van Wyk sê dat beesboere in die omgewing deur ‘n sindikaat geteister word wat beeste in die veld kom slag en die vleis steel. Die slagters is so morsig dat hulle soms net sekere snitte vat en die grootste gedeelte van die beeskarkas in die veld agterlaat om te vrot.
As gevolg van die toenemende probleem het mnr. Van Wyk besluit om wagte van buite die omgewing in te bring om sy diere op te pas. Hy bekom sy wagte deur ‘n besigheid in die Noord Kaap.
Mnr. Van Wyk skat dat hy van Desember tot twee maande terug toe hy die wagte aangestel het, sowat R100 000 se skade gehad het as gevolg van die veldslagters.

Hy is vas oortuig dat die moord gepleeg is met die suiwer motief om sy wagte asook vir hom te intimideer.
“Hulle laat ons met geen ander keuse as om sterker weerstand te bied nie. Daar sal meer wagte ingebring moet word en daar is klaar gewapende reaksie op bystand om hulp te bied in die toekoms,” sê mnr. Van Wyk.
Hy en sy vrou, Sonja, het Woensdag van die Noord Kaap teruggekeer nadat hulle mnr. Lalenda se begrafnis Maandag bygewoon het.
• Daar is by ‘n betroubare bron verneem dat daar ‘n sterk vermoede is dat die vleisdiewe twee huurmoordenaars gekry het om die moord te pleeg.
Inligting bestaan dat van die vleis moontlik in Mhluzi verkoop word, maar dat daar ook ‘n sindikaat van ‘n ander provinsie plaaslik doenig is. Die vleis word vermoedelik in Gauteng verkoop. Die volume vleis waarvan daar gepraat word is skrikwekkend en dui daarop dat dit nie sommer uit iemand se agterplaas verkoop word nie.
Buiten vir die beeste wat by mnr. Van Wyk geslag is, is daar by Schoeman Boerdery in dieselfde omgewing 26 beeste in die laaste maand geslag met ‘n beraamde skade van R260 000.
Daar is by W.A. De Klerk, wat tussen Hendrina en Blinkpan boer, twee koeie geslag in die laaste maand. Daar was ook ‘n voorval waarin ses van sy beeste gekap is, maar hy kon hul almal deurhaal.
“Mens gaan later doodeenvoudig nie meer met beeste kan boer nie,” sê mnr. De Klerk.
Lees ander nuus hier:
Best friends in tragic accident
Video: Hoop op reën want on dam is leeg!
Video: Donkie gebore tydens ongeluk
Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!
