CrimeUpdate

(Opvolg) Video: Nuwe wending in OK Grocer diefstal

Die inbraak by die OK Grocer in Jeppestraat het ’n nuwe wending geneem, want die diewe het nie net palethysers gesteel nie, maar ook gery met gesteelde nommerplate!

Die diewe het Sondag omstreeks 02:30 toegeslaan by die ontvangsarea van OK Grocer.

CCTV Videomateriaal wys hoe ’n wit Nissan NP200 bakkie die parkeerarea binnery. Twee mans loop vir meer as twee ure op die perseel rond om te kyk wat hulle kan steel.

Hulle het die een kamera met ’n stok opgeskuif, maar nie die ander kameras opgemerk nie.

Net na 04:00 besluit die twee dat hulle die palethysers wil hê, waarop hulle dit uitsleep en op die bakkie laai.

Nadat ’n vrou (wat anoniem wil bly) die videomateriaal onder oë gehad het, het sy vir mnr. Leon Prinsloo (OK Grocer) gesê dat sy een van die mans op die videomateriaal vroeër die dag by TM Motors gesien het. Hy het ook presies dieselfde klere aangehad as wat hy die aand aangehad het met die diefstal.

Sy het verder gemeld dat hy weggery het met ’n wit Nissan NP200 bakkie.

Mnr. Prinsloo het mnr. Francois Naudé (Eienaar, Executive Risk Control) gekontak om te help met die ondersoek.
Mnr. Naudé sê hulle het blitsig die registrasienommer nagespoor en uitgekom by ’n groot firma in Johannesburg (wat gevra het dat hul maatskappy se naam nie in die media genoem word nie).
Dié maatskappy het wel ’n wit Nissan NP200 bakkie as deel van hul vloot, maar ál hul voertuie is met die maatskappy se naam gemerk. Die bakkie wat gebruik is met die diefstal, het géén merke gehad nie.

Hulle is al meer as ’n week self besig is met ’n ondersoek, aangesien ’n Nissan NP200 se nommerplate by een van hul werknemers se huis gesteel is. Hulle het bewyse gestuur van die diefstal, asook die ondersoek!

Mnr. Naudé sê dit maak húl ondersoek moeiliker. Sou die dief deur die polisie afgetrek word en hulle gaan die nommerplate op die stelsel na, sál dit ooreenstem met ’n NP200. Slegs as die enjinnommers nagegaan word, sal hulle kan sien dat die nommerplate gesteel is!

Al hoe hulle nou die dief kan vastrek, is as iemand hulle herken op die videomateriaal.  As jy die man op die video herken, bel mnr. Naude by 083 633 4933.

• As enigiemand die persoon op die videomateriaal herken, bel mnr. Prinsloo by OK Grocer by 013 282 6250 of mnr. Naudé by 083 633 4933.

Back to top button