Crime

‘Agter traliehek’ aangehou by Shoprite

’n Vrou beweer dat sy teen haar sin by die Shoprite in die sentrale sakegebied in Middelburg aangehou is, omdat sy per abuis nie vir ’n koeldrank en vetkoekies ter waarde van R15 betaal het nie.

Me. Neethling (wat haar naam weerhou om haar kinders te beskerm) voel sy is soos ’n krimineel behandel.

Sy het kruideniersware gaan koop en het haar twee kinders van vyf en ses jaar saamgeneem. Haar sesjarige seuntjie lei aan aandagafleibaarheid en is hiperaktief en hy het op ‘n stadium moeilik geword.

Me. Neethling het vir hom ‘n koeldrank en vetkoekies van die rak gehaal om hom rustig te maak, gedagtig daaraan dat sy daarvoor sal betaal as sy by die betaalpunt kom.

By die kasregister het sy haar kruideniers betaal en aangestap na die area waar die sekuriteit die strokies nagaan.

Sy is daarop gewys dat sy nie vir die koeldrank en vetkoekies betaal het nie. Me. Neethling het besef wat gebeur het en het gesê dat sy ingedagte was en dit per abuis gebeur het.

Sy het dadelik gesê dat sy sal terugkeer na die betaalpunt en dit sal betaal. Volgens haar was die sekuriteitswag nog vriendelik en het gesê sy sal saamstap na die betaalpunt sodat hulle dit kan gaan betaal.

Sy is egter nie na die betaalarea toe geneem nie, maar na die kantore, waar hulle haar en haar kinders in ‘n area agter traliehekke aangehou het. Sy sê haar kinders was heeltemal histeries en het kort-kort gevra dat hulle wil uitkom.

Me. Neethling sê sy kon weens die kragprobleem in die dorp, nie haar selfoon se battery laai nie en kon dus nie iemand bel om haar te kom help nie.

Sy is omstreeks 10:30 soontoe geneem en het om 13:00 agtergekom dat daar mense in en uitgaan by die hek, waarop sy gevra het dat iemand vir die kinders iets te ete moet gaan koop.

Hulle het haar egter ignoreer. Die oomblik toe een weer deur die hek gaan, het sy en die kinders uitgeglip en het sy vir haar kinders gaan kos koop.

Sy is weer terug om te hoor wat gaan gebeur, waar sy in die kamer moes wag tot die polisie om 15:00 opgedaag het.

Ne. Neethling het agter die polisie aangery tot by die polisiestasie. Volgens haar het die polisielid na haar geluister en toegegee dat sy per abuis die artikels nie betaal het nie en het geweier om ‘n saak teen haar te open.

• Me. Neethling sê sy het haar nie teëgesit of aggressief geraak nie, omdat sy haar kinders wou beskerm.

• Mnr. Godfrey Morokang (bestuurder) sê hulle het haar nié toegesluit nie en dat sy vry was om te kom en gaan soos sy wil. Hy het gemeld dat hy gesien het toe sy in die winkel was om kos vir haar kinders te koop.

Hy het egter toegegee dat hulle haar na die kantore toe geneem het en daar gehou het om te ondersoek of sy die artikels per abuis of met opset geneem het.

Hy het verskoning gemaak vir die feit dat die kinders bang was. • Shoprite se hoofkantoor het dié antwoord verskaf op die gebeure: “Die Shoprite Groep het ‘n verantwoordelikheid om verliese deur winkeldiefstal te beperk en sal optree in alle gevalle waar diefstal vermoed word deur die SAPD te betrek sodat die gereg sy loop kan neem.

“Die Groep glo egter ook dat persone betrokke by sulke voorvalle te alle tye met respek behandel moet word en dat veral waar jong kinders betrokke is, die sake met sensitiwiteit hanteer moet word.

“Shoprite ondersoek tans die voorval om seker te maak dat die maatskappy se vasgestelde interne prosedures korrek gevolg is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button