Crime

VIDEO (Waarskuwing – Nie vir sensitiewe luisteraars) – Soos diere agtervolg hulle man

Drie mans het gistermiddag soos diere agter hulle slagoffer aangehardloop in Asaliastraat, een met twee hammers in die hand, hom uiteindelik vasgetrek, verskeie kere op sy kop getrap en hom aanhoudend in die gesig geslaan.

“Help, bel die Polisie, hulle gaan my doodmaak!” het Jaco Slabbert (47) aanhoudend geskreeu, terwyl hy vanaf die Klein Olifantsrivier na Proteastraat se rigting gehardloop het.

Motoriste het verby gery sonder om op sy pleidooie ag te slaan.

Twee bakkies het by die jaagtog aangesluit. Op die hoek van Asalia- en Impalastraat het ’n bakkie al om Slabbert gery, terwyl hy soos ’n vasgekeerde dier agter ’n klein boompie probeer skuil het.

Toe hy weer probeer vlug, is hy platgeduik en op die sypaadjie deur een van sy agtervolgers, Brian Clarke, in die gesig geslaan.

Clarke het ook verskeie kere op sy kop getrap.

Slabbert het weerloos op die sypaadjie gelê en homself bevuil.

Hy het later gesê dat sy voertuig langs die Klein Olifantsrivier gaan staan het. Hy het hulp gesoek by Clarke en sy vriende waarna hy in die gesig platgeslaan is.

Volgens Slabbert het hy ’n hammer gegryp, Clarke teen die kop geslaan en weggehardloop.

Clarke se weergawe was dat hy goedsmoeds geslaan is en daarna besluit het om wraak te neem.

Na die aanvanklike vuishoue en trappery op die sypaadjie het hy Slabbert weer moorddadig in die gesig geslaan ten aanskoue van ’n verkeersman en ’n lid van die Gemeenskaps Polisiëringsforum.

Hy het op die toneel gedreig om die verkeersman, wat hom wou keer om Slabbert verder aan te rand, ook te slaan.

Lede van ER24 het beide mans later behandel.

Twee polisiemanne het ’n uur en ’n half nadat die polisiestasie gebel is, op die toneel opgedaag, maar geen arrestasie is gemaak nie.

’n Vriend van Clarke het gesê “dat hy mal raak wanneer hy onder die invloed is”.

Hy het van die toneel af weggery met ’n bakkie wat volgepak was met huishoudelike items.

Familie het Slabbert later opgelaai en sy stukkende kar ingesleep na sy huis.

Toe alles stil raak het ’n motoris gevra: “Was dit witmense?”.

Die verkeersman het bedeesd geantwoord: “Ja, dit was witmense”.

Lees ander nuus hier:

N4 Vosman protest site cleared, open for traffic

N4 closed at Vosman due to protest on highway

Opvolg: Is lodge aan die brand gesteek?

Damstand stabiliseer te danke aan naweekreën

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button